RIVERSDAL NUUS - Andrew Stroebel, die speaker van die Hessequa-munisipaliteit, neem afskeid.
Hy het pos op Donderdag 27 Junie ontruim.
Hy word na groter verantwoordelikheid na die Tuinroete-distriksmunisipaliteit aangestel.
“Dit is met groot hartseer dat ek met u meedeel dat vandag my laaste dag van diens as speaker van Hessequa-munisipaliteit sal wees,” het hy inwoners op sosiale media meegedeel.
" 'n Nuwe deur, op 'n ander platform, het vir my oopgegaan. Dit is dus die rede vir hierdié bedanking. Dit was 'n enorme voorreg om al van 2011 in die munisipale raad en selfs vroeër in die politieke arena tot u diens te kon wees.”
Stroebel spog met die feit dat hy reg van die begin álle raadsvergaderings bygewoon het en sy pligte as speaker met onderskeiding uitgevoer het.
“Ek is trots op en dankbaar vir die wonderlike wyse waarop ek saam met Hessequa se personeel kon meewerk om ons vir dienslewering te beywer, ter wille van die gemeenskap.”
Hy bedank almal vir hul bydrae en verseker: “Wees gerus: die Hessequa-munisipaliteit is in goeie hande. Die basis is sterk gegrond. Ek is vol vertroue dat die oorgangsproses na die nuwe speaker spoedig en soomloos sal geskied.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’