SLANGRIVIER NUUS - 'n Gesin van die dorp het meeste van hul besittings in 'n oogknip verloor toe 'n brand Dinsdag 21 Augustus in hul tweevertrekhuis uitgebreek het.
Katriena Davids en haar seun, Jenovan, sy meisie, Natasha Augus en hul seun, Jenovan (2), het net die klere oor wat hulle aangehad het.
Die brand het glo teen ongeveer 09:00 ontstaan terwyl Davids saam met haar kleinseun op die bed gelê het. Sy vertel dit was nog koud en nat. Volgens Davids was haar seun en sy meisie nie by die huis toe dit gebeur het nie. Sy vermoed dat dit dalk 'n kortsluiting was, aangesien al die toebehore behalwe die yskas af was.
Sy vertel: "Ek het net geruik dat iets iewers brand en toe ek opkyk het ek gesien my kombuis is in vlamme. Ek het my kleinseun gegryp, buite toe gehardloop en gesien hoe die rook my huis oorval."
Van die bure het die plaaslike munisipaliteit gebel om die brandweer te ontbied.
"Dit was egter te laat om rêrig iets te red," het Davids geskok gesê.
Sy noem verder dat hulle al hul besittings in die brand verloor het. "Dit wat ons hier aan het, is al klere wat ons het, alles is tot niet," het Davids moedeloos gesê.
'n Dringende beroep word gedoen vir enige hulp. Skakel Davids by 074 479 6102.
Dit is al wat gered kon word. Foto's Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'