RIVERSDAL NUUS - Die jaarlikse skou in Riversdal het verlede naweek behoorlik gegons en die dorp in ’n feestelike atmosfeer verander het.
Die 2026-skou het Woensdagaand afgeskop met ’n gesellige Groetmekaaraand in die FNB-lokaal.
Ou bekendes het weer hand geskud en nuwe vriendskappe is gesmee, terwyl borge amptelik bekendgestel en bedank is vir hul volgehoue steun.
Verskeie sprekers het die belangrikheid van samewerking en gemeenskapsgees beklemtoon, waarna die aand met ’n smaaklike ete afgesluit is.
Vrydagoggend is die Skoukuier aangebied, met insiggewende toesprake deur dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, asook prof. Abel Esterhuyse van die fakulteit krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch.
Onderwerpe het gewissel van Suid-Afrika se internasionale betrekkinge en geopolitieke magsverskuiwings tot die uitbreek van bek-en-klouseer in die Wes-Kaap.
Daar is ook erkenning gegee aan die Riversdal Landbougenootskap vir hul volgehoue toewyding om ’n skou van gehalte aan te bied.
Die perde-arena was ’n miernes van bedrywighede, met massa-atletiek en perde-items wat die skare op hul voete gehou het.
Besoekers het heerlike kos, tradisionele skaapkop-etes, ’n verskeidenheid stalletjies en ’n pretpark vir die jongspan geniet.
’n Wolinligtingsessie het waardevolle landbou-insigte gebied, terwyl die rofstoei groot belangstelling gelok het.
Die slaglamkompetisie het ook groot aandag getrek.
Die skou is Sondag met ’n gesamentlike erediens afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’