RIVERSDAL NUUS - Dorpenaars sal dalk nog tot die middel van die jaar moet wag voordat die Shoprite-supermark se deure in Riversdal oopgemaak word.
Louis Jones, die eiendomsontwikkelaar, se aansoek om die ou Handelshuis-gebou in D’urbanstraat (agter Kerkstraat) te ontwikkel, is aanvanklik deur die Hessequa-munisipaliteit na die Eden-beplanningstribunaal vir ondersoek na geskikte volhoubaarheid verwys.
Die grootste besware volgens die verslag was blykbaar dat die voorgestelde ontwikkeling 'n negatiewe impak op die onmiddellike omgewing kon hê en die regte en geriewe van die omliggende eiendomseienaars sou benadeel.
Vordering
Die ontwikkelaar bevestig die volgende vordering:
• Die terrein-ontwikkelingsplan is deur die beplanningsdepartement goedgekeur.
• Shoprite se span was reeds op die terrein om die winkeluitleg te bevestig.
• ‘n Professionele span is bedrywig om die opstel van die bouplanne vir indiening te finaliseer.
Shoprite sal mettertyd ‘n amptelike aankondiging oor die opening van die winkel maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’