ALBERTINIA NUUS - Septembermaand is altyd die gewildste maand om jou tuinbedding vir planttyd reg te ruk. Wat min mense egter weet is dat daar in September 'n plant - of dan blom - is wat bekend staan as die Septemberbossie.
Volgens Wiki-pedia is dié mirte-blaarmelkkruid (Polygala Myrtifolia) 'n immergroen, 2 tot 4 meter hoë Suid-Afrikaanse struik of boompie wat langs die suidelike en suidoostelike kus voorkom.
Hierdie spoggerige inheemse plante is wydverspreide pionierstruike, wat algemeen op duine en klipperige hange groei, sowel as in struik- en oop grasvelde. Dit floreer ook in woude en langs strome.
Alhoewel hierdie pragtige bossie alreeds in Julie begin blom het in die Suid-Kaap en Hessequa-streek, blom dit nog steeds in September.
Die Septemberbossie is 'n vinnig groeiende immergroen plant en daar is spesies beskikbaar vir alle klimate. Sommige is baie rypgehard en almal is geskik vir winderige kustuine.
Hulle pas by die meeste grondsoorte aan, maar verkies goed gedreineerde grond wat matig vrugbaar is. Dus moet kompos by verarmde grond gevoeg word.
Die jong plante moet gereeld water kry tot hulle goed gevestig is, waarna hulle redelik droogtebestand is.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'