MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Lang gekoesterde droom van Soetefontein Senior Burger-klub is uiteindelik bewaarheid toe Lesley Hartnick van die provinsiale departement van plaaslike regering hulle nie-winsgewende organisasie (NWO)-sertifikaat onlangs aan hulle oorhandig het.
Voorsitter Albert Cloete noem dat die visie van die klub 'Aktiewe Veroudering' is.
"Die strategiese doelwitte is om aktiewe veroudering te bevorder, die beskerming van senior burgers en ook om hulle in gesinne en in die gemeenskap te hou solank as wat dit moontlik is," het hy gesê.
Sers. Chrissie Lewaks, sosiale misdaadkoördineerder by Stilbaai-polisie het gesê dat om ouer te word, 'n tyd moet wees waar senior burgers se bydrae tot die gemeenskap erken en waardeer word.
Die bou en onderhou van sosiale verhoudinge het 'n reuse-impak op die gesondheid en welstand van senior burgers en dit moet aktief nagejaag word.
"Sosiale aktiwiteite is belangrik vir senior burgers, want dit maak dat hulle nie eensaam en geïsoleerd voel nie. Georganiseerde sosiale aktiwiteite verskaf ook 'n gevoel van "ek behoort" en dit gee aan die senior burgers altyd iets om na uit te sien," het sy gesê.
"Die klub is ewig dankbaar vir die hulp en bystand van mnr. Hartnick en sy departement," het Cloete bygevoeg.
Enigiemand van die ouderdom 55 jaar en ouer is welkom om by die klub aan te sluit en kan Cloete by 079 993 1673, of Lewaks by 028 754 1605 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'