HESSEQUA NUUS - Die vermeende misdadiger wat op aanklagte teregstaan dat hy in die Stilbaai-omgewing seksdade met ten minste twee kinders gepleeg het, bly agter tralies nadat sy borgtogaansoek onsuksesvol was.
Die man wat bekendheid verwerf het as die Stilbaai-pedofiel het volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie na bewering oor 'n tydperk van drie jaar seksdade met die kinders van onderskeidelik agt en 10 jaar oud gepleeg.
Die staat voer aan dat hy hulle vertroue met omkopery gewen het.
Die beskuldigde het Vrydag, 16 Oktober sy sesde hofverskyning gemaak in 'n poging om borgtog te kry. Pojie het bevestig dat nog klagtes teen die man aanhangig gemaak kan word soos die ondersoek sy gang gaan.
Nog vyf ander vermeende Hessequa-seksmisdadigers se sake is op Donderdag, 15 Oktober in Albertinia en Riversdal se landdros- en streekhowe geboek.
'n Twee-en-veertigjarige man van Albertinia wat op aanklagte tereg staan dat hy sy agtjarige dogter op die ouderdom van drie jaar verkrag het, se saak is uitgestel. Die departement van openbare vervolging sal sy volgende hofdatum moontlik vir 2021 bekend maak.
Pojie het verduidelik die man is op 2 September vanjaar in hegtenis geneem na sielkundige intervensie met die slagoffer, waar die gebeure verwoord en haar weergawe na al die jare in die ondersoekdossier neergepen is.
Die man se verloofde, wat nie bloedverwant met die slagoffer is nie, staar klagtes van kindermishandeling en -verwaarlosing in die gesig.
Haar beweerde dade hou met dieselfde slagoffer verband. Haar verhoor is reeds in 'n gevorderde stadium, maar sy het weens mediese redes nie Donderdag by die hof opgedaag nie.
Die DOV sal ook vir haar verhoor 'n nuwe hofdatum vasstel hangende die evaluasie van haar mediese toestand.
Die verhoor teen 'n voormalige Heidelberg-polisieman en sy vermeende seksmisdadiger-vriend sal ook vir 'n 2021-datum op die hofrol geplaas word. Hulle sake word in die Riversdal-streekhof aangehoor. Hier is 'n reeks klagtes ter sprake, wat verkragting insluit.
'n Voormalige Heidelberg-onderwyser se beweerde seksuele aanranding van 'n leerder is ook tot 'n latere datum in die Riversdal-streekhof uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'