RIVERSDAL NUUS - Die saak teen 'n voormalige burgemeester en ANC-wyksraadslid van die Hessequa-munisipaliteit en nog 'n manspersoon is Vrydag 5 Julie in die Riversdal-streekhof tot aanstaande jaar uitgestel.
Chris Tauté (63), ANC-partyleier in Hessequa en 'n voormalige burgemeester, en Claudio Conradie, (37), 'n voormalige Hessequa ANC-kiesafdelingsadministrateur en nou 'n veldwerker by McGregor-munisipaliteit, het vlugtig weer in die hof verskyn.
Hulle het 8 Maart 2023 die eerste keer op gesamentlik 21 aanklagtes van korrupsie en een klag van bedrog verskyn nadat hulle op Dinsdag 7 Maart 2023 deur die Valke in hegtenis geneem is.
Tauté is by sy huis in Riversdal gearresteer, terwyl Conradie homself aan die polisie oorhandig het nadat hy in kennis gestel is dat daar ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is.
Die aanklagte volg na ’n intensiewe ondersoek deur die Valke se eenheid teen ernstige kommersiële ondersoekspan. Hulle is beide nog op borgtog van R10 000 elk.
Die saak is tot Donderdag 6 Maart 2025 uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’