Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die derde in 'n reeks van 11 Kasselshoop Farm Runs vir 2019 het Saterdag 30 Maart op dié plaas buite Stilbaai plaasgevind.
Hoewel daar minder deelnemers as tydens die eerste twee byeenkomste was, het diegene wat die 5,7 km-roete in die veld aangepak het, dit terdeë geniet.
Welkome reën vroeër gedurende die week het gesorg dat die veld se groen begin deurslaan het en plaaslike deelnemers, sowel as vakansiegangers en besoekers, het die beste van hul draf- of stapsessie gemaak.
André Jakobus van Riversdal was dié keer eerste by die einde, hoewel hy en Hendrik Prins, ook van Riversdal en selfs Jakobus se Lee-Roy (7) mekaar tot by die einde gejaag het. Prins was tweede, twee sekondes agter Jakobus, wie se wentyd 31 minute en 08 sekondes was met Lee-Roy net sewe sekondes agter Prins, terwyl Prins se seun, Keagan (11) nie veel verder agter was nie. Hy was vierde by die einde (34 min 26 sek) met Stilbaai se Johan Barnard vyfde, net 11 sekondes na die jong Prins.
Laerskool Bertie Barnard se Alrich Rademeyer (9) was die derde junior by die einde en het sesde geëindig, 28 sekondes voor nóg 'n jong Riversdal-drawwer, Khalid Yabrou (9) wat sommer kaalvoet deelgeneem het. Rademeyer se broer, Gysbert (12), was agste met die eerste twee dames, ma Adrie en haar dogter, Andrie Swart, ook van Riversdal, wat saam-saam by die einde was en die toptien afgerond het.
Die dames het toe sommer op 'n streep klaargemaak met Verona Pieters, wat die damespodium afgerond, en Anél Nortman wat net na haar geëindig het. Stapper Hennie de Jager van Albertinia het weer sy ding gedoen en was 13de algeheel met Lizette Cronjé, wat van die naburige plaas na die byeenkoms en terug huis toe stap, wat 14de was en nóg 'n stapper, Anthony Avenant, wat vir die eerste keer deelgeneem het, wat 15de klaargemaak het.
Fritz Louw van Pretoria was 16de en is gevolg deur Cornelia Giliomee, Jacomi Odendaal, Tina Ashleton-Smith van Johannesburg en Fritz se vrou, Mariet.
Daar was 35 deelnemers waarvan heelparty na afloop van die byeenkoms heerlik kon kuier en verversings by Kasselshoop se proelokaal kon geniet.
Die volgende Kasselshoop Farm Run/Stap vind op 20 April plaas.
Vriendinne Elma Peenz (heel links) en Dillien Stramrood, al die pad van Quatar (middel), geniet die stappie met Christa Wagene van Rawsonville wat saamstap. Foto's: Richard Webb
Lees 'n vorige artikel hier: Riversdallers vinnigste op die plaas
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'