Update
STILBAAI NUUS - Stilbaai-polisie het die Vangs van die Jaar-toekenning tydens die Wes-Kaapse polisie se provinsiale uitnemendheidstoekenningsgeleentheid vir 2025 ontvang.
Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal (adv.) Thembisile Patekile, was gasheer by die seremonie wat in die Konvensiesentrum in Century City, Kaapstad, gehou is.
Die toekenning is gemaak na aanleiding van 'n voorval op 19 Julie 2024, toe dwelm smokkelaars kokaïen ter waarde van R200 miljoen deur Stilbaai-hawe die land wou insmokkel.
Daardie aand, omstreeks 18:50, het die polisie inligting oor verdagte aktiwiteite by die Stilbaai-hawe ontvang.
Op pad hawe toe het hulle 'n voertuig met 'n rubberboot teëgekom wat aan die beskrywing voldoen het.
In die daaropvolgende jaagtog is die voertuig, 'n Toyota Prado, op die Jongensfonteinpad tot stilstand gedwing, waarna twee mans die bosse ingevlug het.
Die polisielede het hulle agternagesit.
Na verskeie navrae deur die polisie het lede van die publiek waardevolle inligting verskaf en is die twee verdagtes by 'n plaaslike akkommodasiefasiliteit gearresteer.
Met die deursoeking van die rubberboot het die polisie op 14 sakke met 420 kg kokaïen afgekom.
Die dwelms, die Toyota Prado en die rubberboot is gekonfiskeer.
Die verdagtes, 'n 48-jarige man van Gauteng en 'n 39-jarige man van Russiese afkoms, is in hegtenis geneem.
Die saak is na die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad oorgeplaas en daar is intussen nog arrestasies gemaak.
Die saak dien tans voor die Kaapse hooggeregshof.
Dit is 'n welverdiende toekenning, aangesien Stilbaai-polisie se deeglike ondersoekwerk in 2023 ook daartoe gelei het dat onroerende eiendom - in hierdie geval 'n plaas - vir die eerste keer ooit in Suid-Afrika weens dwelmhandel aan die Staat verbeurd verklaar is.
Kapt. Johan van Tonder, bevelvoerder van Stilbaai-polisie, sê hulle is daartoe verbind om Stilbaai, in samewerking met al die toegewyde buurtwaglede, so veilig moontlik te hou.
Hy is met reg trots op een en elke lid van sy stasie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’