Update
RIVERSDAL NUUS - Die onaangename reuk, afkomstig van 'n varkboerdery net buite Riversdal sal blykbaar nog vir 'n wyle in die lug hang.
"Dié reuk word hoofsaaklik deur onvoldoende behandeling van die miswater in die anaërobiese dam as gevolg van foutiewe belugting veroorsaak en voldoen dus nie aan die vereistes soos gestel deur die departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning nie," sê munisipale woordvoerder, Didi Budricks.
'n Kennisgewing ingevolge Hessequa-munisipaliteit se bywette is op 7 Januarie deur die Garden Route-distriksmunisipaliteit op die varkboerdery bedien en is die boerdery 14 dae toegestaan om die nodige maatreëls in plek te stel ten einde die reukoorlas aan te spreek.
"Verskeie vergaderings met die plaas se bestuur, die onderskeie munisipaliteite, sowel as die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het plaasgevind. Die boerdery se bestuur het uitstel tot en met 15 Februarie gevra, omdat die prosesse soos alternatiewe produkte wat in die dam gevoeg is, 'n minimum van 14 dae benodig om optimaal te funksioneer. Die varke se rantsoene is ook aangepas ten einde die reuk van die mis te verminder," noem Budricks.
Opvolginspeksie deur die betrokke owerhede op gemelde datum, sowel as brief vanaf die bestuur van die boerdery het bevestig dat voorgenome prosesse onsuksesvol was. Die munisipaliteit is tans in die proses om regsadvies in te win om die aangeleentheid aan te spreek.
Jan Streicher van Riversdale Piggery het by navraag aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy nie bewus is van wat hul (die munisipaliteit se) prosesse behels nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'