RIVERSDAL NUUS - Johannes Radebe (54) wat in versorging by Goukam Health in Langstraat was, het op 28 Augustus sy laaste asem uitgeblaas sonder dat sy familie geweet het dat hy baie siek was.
Dihanna van Wyk, bestuurder van Avbob Riversdal het besluit om hom met die nodige respek en waardigheid te begrawe.
Hul het in samewerking met Hessequa Munisipaliteit reëlings getref sodat Radebe begrawe kon word. Die munisipaliteit het die gat gegrawe en die res het Avbob hanteer.
Hulle het die kis, blomme en kruis vir sy begrafnis voorsien. "Dis die minste wat ons kon doen," het Van Wyk gesê.
Sias en Heleen Coetsee, inwoners van Hartenbos het Radebe vir 12 jaar geken. Hy het hul tuin versorg, maar nadat hy te siek geraak het, het hul gereeld met kontak gemaak in 'n versorgingsplek op Mosselbaai, maar hy is oorgeplaas na Riversdal.
"Nadat ek van die Coetsee's verneem het, het ek gereël dat sy begrafnis sal plaasvind wanneer hulle ook teenwoordig kan wees," vertel Van Wyk. Die Coetsee's het Vrydag 8 September hul laaste eer aan hom by die plaaslike begrafplaas kom betoon waar hy ter ruste gelê is.
"Hul het ook sy lewensmaat, Katriena Beukes saamgebring. Sy was baie hartseer by die teraardebestelling, maar is bygestaan deur Heleen.
Die begrafnisdiens word gelei deur Sias Coetsee.
Tydens die kort diens wat by die graf gelei is deur Sias het hy genoem: "In die 12 jaar wat ek Johannes geken het, het ek so baie dinge by hom geleer. Ek en hy het mekaar verstaan. Ek glo hy is nou op 'n beter plek. Rus sag, Johannes."
Hy het daarna 'n gebed gedoen. Die munisipale werkers wat verantwoordelik was vir die toegooi van die gat het ook die diens bygewoon.
ARTIKEL EN FOTO'S: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'