HESSEQUA NUUS - Die munisipaliteit het aan die begin van die inperking R100 000 vir die aankoop van kospakkies beskikbaar gestel vir gesinne wat weens die maatreël nie ’n inkomste verdien nie.
Dit het uitkoms vir talle gesinne in nood gebied. Dit is aangevul met behulp van ’n projek wat gemeenskapslede begin het en waarmee nog sowat R100 000 ingesamel vir kospakkies ter waarde van tussen R350 en R450 elk aangekoop is.
Dit is deur lede van die munisipaliteit se beskermingsdienste afgelewer volgens lyste wat die raadslede verskaf het. Garden Route-distriksmunisipaliteit het nog 110 pakkies geskenk wat ook afgelewer is.
Buiten die kospakkies word voedsel ook aan bestaande sopkombuise gelewer sodat hulle warm maaltye aan inwoners kan verskaf.
Dit is die departement van maatskaplike ontwikkeling en SASSA se plig om inwoners te help. SASSA se riglyne vereis onder meer dat hulpbehoewendes die oproepsentrum kontak om te registreer, waarna hul situasie ondersoek word om te sien of hulle aan die nodige vereistes voldoen om ’n kospakkie te mag ontvang.
Vereistes
Die vereistes sluit in dat geen persone wat reeds ouderdoms- of ongeskiktheidspensioen ontvang, aansoek mag doen nie, maar persone wat ’n kinder- of voogtoelaag ontvang, mag wel. Die aansoeker moet sy identiteitsnommer, naam, adres en telefoonnommer verskaf - veral die telefoonnommer is noodsaaklik, want daarsonder kan die proses nie afgehandel word nie.
Die munisipaliteit hou by hierdie vereistes, want diegene wat reeds ’n toelaag ontvang word nie deur die inperkingsmaatreëls geraak nie. Niemand mag deur meer as een projek bevoordeel word nie en die name van begunstigdes word opgeteken sodat die speaker se kantoor die hulp kan koördineer en kontroleer.
Alle aansoeke word vertroulik en met empatie hanteer om begunstigdes se menswaardigheid te verseker en te beskerm.
Daar word ook deurlopend wonderlike werk deur gemeenskapsorganisasies, nie-regeringsorganisasies en privaat individue wat na die hulpbehoewendes uitreik, gedoen. Die Wes-Kaapse departement van onderwys het die afgelope drie weke die skolevoedingsprogram hervat.
Gekookte maaltye word twee maal per week by skole in die dorpe verskaf. Die leerders gaan haal dit en neem dit huis toe.
“Hessequa is ’n munisipaliteit wat omgee,” sê uitvoerende burgemeester Grant Riddles. “Die projek het ten doel om in hierdie tyd van nood ondersteuning aan elke inwoner wat dit nodig het, te bied. Ek doen ook ’n beroep op alle inwoners om veilig te leef en die inperkingsmaatreëls te gehoorsaam.”
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'