Update
SWELLENDAM NUUS - Virgil Pretorius (32), oud-konstabel en hofordonans van Heidelberg, is Maandag 11 Junie in die rondgaande Hooggeregshof op Swellendam skuldig bevind op twee van die vier aanklagte teen hom.
Pretorius is skuldig bevind op aanklag 1: Aanranding met die doel om ernstig te beseer en aanklag 4: Moord met voorbedagte rade (op Candice Alberts ). Sy skuldigbevinding het op sy slagoffer se verjaarsdag geskied. Sy sou vanjaar haar 34ste verjaarsdag gevier het.
Volgens regter Robert Henney se uitspraak vind die hof hom onskuldig op klagtes 2 en 3, wat aanranding gewoon en diefstal insluit. Hy het benadruk dat dit duidelik was dat Pretorius beplan het om Alberts te vermoor deur haar bewusteloos met 'n stomp voorwerp te slaan, haar te verwurg en daarna doelgeroegte steekwonde op gefokusde plekke toe te dien.
"Dit was jou plan om haar te vermoor en haar liggaam te versteek sodat jy nie uitgevind kon word nie. Dit is bo redelike twyfel."
Alberts se ouers, pastoor Tommy en sy vrou Cathy, asook Pretorius se ma, Dina, sy oudste broer en 'n groot aantal inwoners van Slangrivier was weer Maandag in die hof. Alberts se pa, wat tot dusver redelik kalm tydens al die hofverrigtinge was, het bewoë geraak toe Pretorius, nadat hy hulle om verskoning gevra het, daarop gesinspeel het dat beide van hulle gelieg het tydens hul getuienis. Hierop het Henney hom daarop gewys dat hy nie tydens hul getuienis daarteen kapsie gemaak het nie en dat die hof die Alberts-egpaar, asook al die ander getuies se weergawe as juis aanvaar het.
Pretorius het tydens sy ondervraging deur sy regsverteen-woordiger, adv. Nick du Toit volgehou dat hy en die oorledene sou opgemaak het en dat hy gereeld by die Albertswoning op Vleidam oornag het. Hierop het haar pa hardop geskree, "hy lieg" en in trane uitgebars. Henney het Alberts gewaarsku om stil te bly en is hy deur ao. Andries Olivier en Michael Waweni, 'n geestelike leier, na buite vergesel.
Die groep inwoners van Slangrivier woon nog sedert die eerste hofverskyning op Heidelberg die verrigtinge by om Candice se ouers en familie te ondersteun. Hier is hulle Maandag voor die hof op Swellendam met hul plakkaat.
Pretorius het tydens sy ondervraging gebewe en aan 'n Bybel vasgeklou. Hy het ook huilerig geraak toe Henney hom gevra het of hy berou het oor sy daad. "Het jy regtig berou of is jy net spyt dat jy uitgevang is en tronkstraf in die gesig staar?"
Dié uitspraak is Woensdag, 6 Junie voorafgegaan deur getuienis van die forensiese patoloog, dr. Christa Hattingh wat 'n grusame weergawe vir die hof geskets het. Volgens haar is die slagoffer óf met 'n stomp, harde voorwerp wat moontlik 'n klip kon wees teen die kop geslaan, of moontlik met haar kop teen of op 'n harde oppervlak neergegooi, wat haar bewusteloos sou gelaat het. Sy is daarna met 'n elektriese koord verwurg en toe 24 keer op gefokusde plekke met 'n mes gesteek.
Virgil Pretorius en die slagoffer, Candice Alberts.
Volgens Hattingh kan 'n persoon binne 8 tot 18 sekondes sterf as hulle op die manier verwurg word. Sy het gesê dat van die steekwonde tot 5.5 cm diep was. Die doelgerigte manier hoe die wonde toegedien was, van 'n persoon wat op haar nek en borskas gefokus het. Sy is ook van agter af in haar longe gesteek. Hattingh het dit as "overkill" bestempel.
Lyzette Feldtman, Candice se bestuurder by die restuarant waar sy gewerk het en vir wie die slagoffer Whatsapp klankopnames (voice notes) gegee het om te hou indien daar iets met haar sou gebeur, het in haar getuienis gesê dat Pretorius verskeie kere in die boodskappe genoem het dat Candice rondgeslaap het en haar met die dood gedreig. Die verrigtinge het Dinsdag voortgeduur waar beide die staat en verdediging slotvertoë gerig het. Candice se 14-jarige seun sou blykbaar ook ter verswaring getuig. 'n Brief wat hy geskryf het aan Pretorius is aan die staatsaanklaer deur sy ouma oorhandig.
Vonnisoplegging sou Woensdag geskied, maar teen druktyd was dit nog nie bekend nie.
Lees vorige artikels:
- Oud-Konstabel se moordverhoor begin
- Moordverhoor word uitgestel
- Moordsaak teen Virgil Pretorius uitgestel
- Moordsaak word weer uitgestel
- Moordsaak weer uitgestel
- Moordeverdagte weer in hof
- Moordebeskuldigde se borg geweier
- Vrou se lyk gevind: Borgaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'