RIVERSDAL NUUS - Sers. Chris Jansen, mediaskakelbeampte by Riversdal-polisie het 'n ernstige waarskuwing aan inwoners gerig ná 'n reeks voorvalle waarin kuberkrakers onwettig toegang tot inwoners se selfone verkry het.
Volgens Jansen gebruik die misdadigers gevorderde tegnieke om toegang tot slagoffers se WhatsApp-rekeninge te kry.
Sodra hulle beheer oor die rekening het, stuur hulle boodskappe aan mense op die slagoffer se kontaklys waarin hulle voorgee dat die persoon in nood is en dringend geld benodig.
Een van die jongste slagoffers is Suid-Kaap Forum se redakteur, wat oor die naweek eerstehands ondervind het hoe hierdie kuberkrakers te werk gaan.
Nádat sy WhatsApp oor-geneem is, het verskeie vriende en kennisse hom gekontak om te bevestig of hy werklik geld vra. Die kuberkrakers het selfs sy herstel-e-posadres verander, wat hom verhinder het om sy OTP te ontvang en sy rekening terug te kry.
Hy is uiteindelik genoodsaak om 'n nuwe simkaart en selfoonnommer aan te skaf.
"Dis 'n ontstellende en vernederende ervaring," het hy gesê.
"Jy voel weerloos, veral omdat mense op jou kontaklys dink jy probeer hulle bedrieg. Daarby verloor jy belangrike kontakte en data as jou instellings nie behoorlik beskerm is nie."
Jansen waarsku inwoners om waaksaam te wees en nie enige skakels of kodes te deel wat per SMS of WhatsApp ontvang word nie.
Hy beveel ook aan dat mense twee-stap-verifikasie op hul selfone aktiveer en gereeld hul sekuriteitsinstellings opdateer.
"Moenie sommer glo as iemand op WhatsApp sê hulle het geld nodig nie," waarsku Jansen.
"Kontak die persoon direk per telefoon of in persoon voordat jy enige transaksie doen."
Die publiek word versoek om enige verdagte aktiwiteite onmiddellik by die Riversdal-polisie aan te meld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’