RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike polisie soek dringend na inligting wat sal lei tot die arrestasie en suksesvolle vervolging van ’n manspersoon wat glo diefstal by ’n kitsbank (OTM) in Riversdal gepleeg het.
Volgens ao. Alroy Windvogel, Heidelberg-polisie se mediawoordvoerder wou die slagoffer, Deon Vollenhoven van Heidelberg, geld by die kitsbank onttrek toe sy kaart deur die masjien ‘ingesluk’ word.
“’n Ander man het agter die slagoffer gestaan en hy moes oor die slagoffer se skouer geloer het om sy pinnommer te sien. Skaars ’n halfuur later is R900 by Riversdal se kitsbank onttrek.”
Enigiemand wat die nodige inligting kan verskaf of die persoon op die foto herken, moet met sp. sers. Whitey Solomon by 028 722 8200 of 084 661 1155 in verbinding tree. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.