HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie rig ’n dringende waarskuwing aan alle voornemende klaers van gesinsgeweld, seksuele misdaad en ander aanrandingsake om dit deeglik deur te dink voordat hulle besluit om kriminele aanklagtes aanhangig te maak.
Volgens sers. Keeno Fredericks, ’n plaaslike mediabeampte, is dit ’n tendens dat slagoffers, en veral vroue, klagtes teen hul oortreders terugtrek nadat hulle die klagtes kom aanmeld en aanhangig gemaak het.
Hy benadruk dat daar soveel onnodige energie, tyd en hulpbronne op sulke klagtes spandeer word, wat andersins meer sinvol op ander take benut kon word.
“Ek wil dit pertinent stel dat indien enigeen dit oorweeg om kriminele klagtes, teen wie ook al dit mag wees, te maak, daar nie meer in die toekoms toegelaat sal word dat dit teruggetrek word nie. Dit kos die staat groot bedrae geld, asook menslike kapasiteit, om so ’n gemors te hanteer, waar dit meer sinvol op ander uitdagings gebruik kon word,” het Fredericks streng benadruk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’