Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO'S - Die 30-jarige Elseno Oktober wat Maandagoggend, 3 Mei spoorloos met sy meisie se 16-maande oue baba verdwyn het na hy gedreig het om selfdood te pleeg, is opgespoor en boonop vir ontvoering in hegtenis geneem.
Temesgen "Natie" Gebure is die biologiese pa van die baba.
Oktober, met Romesia Miggels (17) se babaseun, Ishaan Miggels by hom, is in 'n "verseëlde" kamer gevind na 'n inwoner die polisie verwittig het dat Oktober by sy woning is.
Die polisie het ongeveer 01:40 'n oproep van die inwoner ontvang nadat Oktober glo met die inwoner telefonies in verbinding was.
Die baba is na die hospitaal geneem waar daar na 'n mediese ondersoek vasgestel is dat hy net ligte kneusplekke aan sy liggaam en voete opgedoen het.
Foto's: Man wat selfdood wou pleeg gevind
Die soektog na Oktober en die baba is sedert Maandagoggend van stapel gestuur nadat Miggels Heidelberg-polisie gebel het. Oktober het volgens haar reeds die vorige aand probeer om homself te hang.
Volgens Miggels wou Oktober nie aanvaar dat dinge tussen hulle nie uitwerk nie en dat sy met haar lewe wou aanbeweeg.
Die polisie het dadelik met die soektog na Oktober en die babaseun begin. Later is versterkings vanaf George, Mosselbaai en Oudtshoorn ingeroep. Verskeie eenhede van die polisie, waaronder lede van POPS, polisie gyselaaronderhandelaars, gemeenskapsveiligheidseenhede soos die plaaslike GPF, buurt- en plaaswagte het aan die soektog deelgeneem. Hulle is Dinsdagoggend met 'n spesiale opgeleide polisiesoek- en reddingshond, K9-lede, lede van die gesinsgeweld, seksuele en kinderbeskermingseenheid, misdaadintelligensie en EMS soek- en reddingspanne aangevul.
Die soektog het Maandag vanaf die Duivenhoksrivier agter Dollar Square, tot op verskeie plase en die begraafplaas gestrek. Dinsdag het hordes inwoners na die rivier oewergebied digby Dollar Square gestroom om te help.
Lugondersteuning, waaronder 'n EMS-helikopter, asook privaat drone-operateurs het ook aan die soektog deelgeneem.
Die soektog is Dinsdag deur genl maj Oswald Reddy, Eden-streek se bevelvoerder gelei. Grant Riddles, Hessequa se uitvoerende burgemeester het die polisiestasie Dinsdag besoek om die munisipaliteit se ondersteuning aan die soektog oor te dra. Raadslede Gerald Boezak en Heinrich Hartnick het ook hul deel bygedra tydens die soektog. Laasgenoemde is ook die plaaslike GPF-voorsitter.
Kyk 3 video's hieronder:
Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaap kommunikasiebeampte is die moontlikheid dat nog klagtes by die klag van ontvoering teen Oktober gelê kan word. Hy verskyn vandag, Vrydag 7 Mei in die plaaslike landdroshof op die aanklag.
Pojie noem verder dat Reddy niks anders as hoë lof aan al die rolspelers verskuldig is nie. Hy het sy dank aan almal uitgespreek vir hul totale toegewydheid in hul soektog na die twee en die suksesvolle arresstasie van die verdagte.
Selfs lugsteun is ingekry om met die soektog te help.
Romesia Miggels, ma van die vermiste babaseun het slapelose nagte deurgebring terwyl die soektog na haar babaseun geduur het. Foto's: Clive Pretorius
'n Verligte Temesgen "Natie" Gebure, die biologiese pa van die 16-maande-oue baba, Ishaan Miggels, in die dienskantoor van Heidelberg-polisiestasie nadat hy ingelig is dat sy seun ongedeerd gevind is.
Vorige artikel: Man wat selfdood wou pleeg gevind
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'