RIVERSDAL NUUS - Vier personeellede van Hoërskool Langenhoven het op Saterdag, 31 Julie 'n Growth Mindset-kursus in die skoolsaal, bygewoon.
Die kursus is 'n Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) inisiatief, wat deur Athenea Faye van Johannesburg aangebied is.
Dit handel daaroor dat 'n mens moet besef dat jy enigiets kan vermag as jy jou gedagtegang verander. Met 'n positiewe ingesteldheid kan 'n persoon enigiets vermag wat op jou pad kom. Dit is ook 'n proses wat deursyfer na die leerders en om hulle te oortuig dat elkeen sy of haar potensiaal kan verwesenlik.
Volgens die personeel beteken dit dat hulle 'n positiewe invloed binne die skool kan uitoefen, sodat kinders meer ontvanklik is vir verandering.
As leerders hulle manier van dink (mindset) verander, kan hulle in hul skoolloopbaan en ook in hul persoonlike lewe groei. Die brein is nie 'n vaste entiteit nie en verbeteringe kan gemaak word om nuwe inligting te leer.
Volgens die personeel het hulle geleer dat "'n mens partykeer net tot stilstand moet kom en introspeksie moet doen, want dit is slegs dan wat verandering kan plaasvind".
Huidiglik is die kursus slegs op grade 8, 9 en 12 van toepassing, maar dit gaan mettertyd na alle leerders uitbrei. Dié betrokke kursus was die laaste van drie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'