Update
RIVERSDAL NUUS - Dit het behoorlik op sosiale media gegons toe dit bekend geraak het dat 'n 13-jarige meisie van Riversdal reeds twee maande uit 'n kinderhuis in George vermis word.
Patricia van Wyk is Saterdag, 15 Mei deur die vasberade pogings van haar tante, Bertha Flores van Riversdal, en knap speurwerk deur ao Attie Botha van George-polisie in Thembalethu opgespoor, waar sy die afgelope tyd by 'n maatjie en hul gesin gebly het.
In 'n persoonlike onderhoud met Suid-Kaap Forum het Bertha haar misnoë uitgespreek dat haar susterskind uit die kinderhuis kon verdwyn.
"Patricia het letterlik net uit die plek gestap. Niemand het haar gesien of voorgekeer nie. Ek kan nie glo dat daar geen vorm van sekuriteit is en dat hulle haar nie eens dadelik vermis het nie," het sy ontsteld gesê.
Patricia is sedert sesjarige ouderdom in die kinderhuis, maar kon darem op gereelde basis vir haar familie kom kuier en het gewoonlik by Bertha se suster, Annie Sembu op Albetinia tuisgegaan.
Desperaat om Patricia op te spoor, is Bertha en Patricia se ma, Flora, na Riversdal-polisiestasie waar hulle vir kapt Januarie gevra het om hulle George toe te vat, wat toe gereël is.
Op Suid-Kaap Forum se navraag het lt kol Delecia Isaacs, stasiebevelvoerder gesê hulle het nie gehuiwer om te help nie.
"Ons was baie bekommerd omdat die meisie minderjarig is en sy sommer net so uit 'n kinderhuis verdwyn het."
By George-polisiestasie het Bertha en Flora by ao Botha aangedring dat hulle haar moet soek. "Ek het gesê ek kom op jou stasie slaap, maar julle gaan soek tot julle haar kry. Ons het Vrydagaand tot 22:00 gesoek, sonder sukses. Maar ao Botha het beloof hy sal aanhou soek tot hy haar kry. En daardie volgende oggend 04:00 toe kry hy haar by 'n Xhosa-maatjie se huis."
Volgens Bertha kon die maatjie se ouers hulle nie laat weet dat Patricia daar is nie, omdat sy nie hulle nommers geken het nie. "Ek is innig dankbaar dat hulle so mooi na haar gekyk het." Sy bedank ook die polisielede van albei polisiestasies vir hulle uitstekende diens en dat hulle Patricia opgespoor het.
"Die welsynwerker wou haar eers vir ses maande in my sorg plaas, maar toe sê ek nee, Patricia gaan by my dogter, Rosalina van Neel op Zeerust bly, want haar man is ook 'n veligheidshuisouer. Daar kan sy saam met Rosalina se kinders skool toe gaan, want ek gaan nie my suster se kind weer blootstel nie. Was dit nie vir my nie, sou my suster nooit haar kind gekry het nie."
Suid-Kaap Forum het die kinderhuis per e-pos om kommentaar genader, maar teen druktyd nog niks ontvang nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'