HESSEQUA NUUSFLITS - Dis daardie tyd van die jaar waar die paaie weer vol motoriste gaan wees op pad na 'n vakansiebestemming.
Nie almal hanteer 'n lang reis goed nie en bring maklik die lelike in hul na vore.
Sommige padgebruikers bestuur onverskillig en stel ander motoriste in gevaar.
Jy is op die N2 en skielik van nêrens is 'n motor op jou van agteraf.
Jy kan duidelik in jou truspieël die frustrasie op die bestuurder se gesig sien en weet hy verwag dat jy in die geelstreep moet beweeg sodat hy kan voortsnel na sy eindbestemming.
Dis nie op daardie oomblik vir jou veilig om in die geelstreep te beweeg nie, maar jy voel verplig aangesien dit voel asof jy die motor soos 'n sleepwaentjie trek.
Uiteindelik is dit veilig om die haastige ou 'n kans te gee om verby te kom sonder dat hy aankomende verkeer in gevaar stel.
In plaas van om dankie te sê gluur die bestuurder jou aan en aan die manier hoe sy mond beweeg is jy seker dat hy jou nou goed skel.
Voorkom padwoede
Daar is heelwat maniere om padwoede te voorkom. Een hiervan is om jou roete vooraf te beplan om stres en angstigheid te verminder.
Vergeet van jou bekommernisse by die huis asook die werk - jy is op vakansie en wil dit ten minste geniet. Speel musiek in jou motor sodat jy ontspanne kan voel.
Stop gereeld langs die pad waar dit veilig is en rek jou bene, stap om die motor voordat jy die pad weer aanpak.
Bestuurders wat hulself in ‘n spanningsvolle situasie op die pad bevind, of geïrriteerd of ongeduldig voel, moet diep asemhaal en probeer ontspan.
Lees meer in Donderdag se Suid-Kaap Forum, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'