Update
HESSEQUA NUUS - Ek sal kan doen met 'n miljoen - maar 'n pampoen sal ook doen! Veral as dit weer eens die Suidelike Halfrond-rekord oortref, en dis presies wat Willem le Grange van Mosselbaai vanjaar gedoen het.
Le Grange, wat ook verlede jaar se kampioen pampoenkweker was, se knewel van 'n pampoen het die skaal behoorlik laat kreun by die jaarlikse Heidelberg Pampoenfees wat op Saterdag, 26 Maart plaasgevind het.
Vanjaar het sy pampoen die skaal op 904.5kg getrek. Hiermee het Le Grange die Suidelike Halfrond-rekord van 867,5kg wat hyself 26 Maart verlede jaar opgestel het, met 37kg oortref.
Die spanning was voelbaar terwyl sy pampoen laaste geweeg is, omdat die verwagting daar was dat dit die 1 191,5kg wêreldrekord kon oortref.
Le Grange, wat 'n plaasbestuurder vir Indigo Fruit Farming op die plaas Ruiterbosch Agri is, het vier uit die 36 pampoene wat by die pampoenfees ingeweeg is geteel, maar slegs die grootste een om die gesogte titel ingeskryf.
Kort op Le Grange se hakke het Piet Lotz en sy vrou, Elizna onderskeidelik tweede (839kg) en derde (730kg) plekke behaal en Corné van Greunen die vierde plek met sy pampoen van 696kg.
Na al die spanning en asem-ophou, het Pieter Conradie en Francois Behrens onderskeidelik die titel gewen vir die lelikste en mooiste pampoen.
Die totale kontantpryse het R70 000 beloop.
Die verrigtinge het ook 'n 4x4 kompetisie op Westfieldplaas en 'n gholfdag ingesluit. Verskeie sangers, waaronder Jo Black, Leah en ander het die aanwesiges met sang en musiek trakteer.
Gerhard Cronjé, verteenwoordiger van Freshmark wat die SA-rekord prysgeld van R30 000 geborg het en Altus Joubert, hooforganiseerder van die Heidelberg Pampoenfees staan by die drie wenners, Elizna Lotz (derde), Willem le Grange (kampioen) en Piet Lotz (tweede). Foto's: Clive Pretorius
Vorige artikel: Willem se pampoen doen dit weer
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'