HEIDELBERG NUUS - Inwoners van Huis Zenobia du Toit het Woensdag 27 September saam met ACVV Hansie en Grietjie-speelskool 'n oggend vol pret gehad.
Die bestuurder, Heidi de Jager het die uitnodiging aan die speelgroep gerig ter vroeë viering van Internasionale dag vir ouer persone op 1 Oktober.
Aangesien die datum op 'n Sondag geval het en die kleuterskool dan gesluit is, het De Jager dit goedgedink om die spesiale geleentheid vroeër in die week te vier.
Vrolike gesiggies het die eetsaal opgehelder met hul kinderlaggies en gebabbel.
Daar is saam klei gespeel, legkaarte en blokkies gebou, ingekleur en een van die hoogtepunte was Ella Badenhorst se storievertelling. Die 20 kleuters en senior burgers het die dag terdeë geniet.
Die eetgoed het ook nie agtergebly nie.
Heerlike koek, lekkers, koeldrank vir die kinders en 'n koppie tee vir die inwoners was bedien.
"Ons gaan die uitnodiging beslis in die toekoms herhaal," aldus de Jager.
ARTIKEL: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelsberg, Hessequa nuus'