RIVERSDAL NUUS - "Jy het die orrel jou vriend gemaak. Ek kon sien jy en die instrument was een."
Dit was een van die komplimente wat Kdan Arren Floris, 21-jarige musiekstudent aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang het na hy Vrydagaand 13 September aan 'n orrel-galakonsert deelgeneem het.
Internasionale en Suid-Afrikaanse kerk- en konsertorreliste Winand Grundling, Marnus Greyling, Andrea Kayser-Mitas en Isabelle van Rensburg het in die Endlersaal op die studentedorp opgetree.
Floris, wat verlede jaar 'n beurs vir orrelstudie aan die Universiteit van Pretoria ontvang het, was weer vanjaar 'n wenner van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) se beurskompetisie. Hy het onlangs die gr. 8 praktiese orreleksamen aan UNISA met 90% geslaag. Vir hierdie prestasie is hy op die ererol van die universiteit se musiekdepartement geplaas - 'n voorreg wat hy ook vir klavier ontvang het.
Deur hierdie besondere prestasie is dié opkomende orrelis genooi om aan die UNISA South African Music Scholarship Competition, wat vanaf 10-11 Oktober 2019 by die hoofkampus in Pretoria plaasvind, deel te neem.
Volschenk-musiekakademie
Floris het in Kaapstad grootgeword voor die gesin na Riversdal verhuis het. Van gr. 3 af het hy by Laerskool Volschenk begin skoolgaan waar hy op 11-jarige ouderdom by Maggie Filmalter by die Volschenk-musiekakademie begin klavierles kry het. Die musiekleiers van die Nuwe Apostoliese Kerk het verder tot sy musiekkennis bygedra.
Om die orrel te bespeel was 'n natuurlike uitvloeisel van klavierspeel, maar ook veral omdat dit die hoofinstrument in die kerk is wat hy graag wou bemeester.
Die liefde vir musiek kom van sy ma se kant af. "Die Fielies-familie aan my ma Elbie se kant was al die jare musiekmense," vertel hy. "My ma speel viool en as baba en jong kind moes ek saam met haar na oefensessies en godsdienstige optredes gaan.
My ouers glo die talent waarmee ek gebore is, baan my lewenspad.
Natuurlik moet dit so wees, maar ek wil ook graag 'n entreprenteur word om sodoende die pot aan die kook te hou maar ook die vryheid te hê om te reis."
Konservatorium vir Orrelmusiek
Tans kry hy by dr. Mario Nell en Linda Claassen by die Konservatorium vir Orrelmusiek aan die Universiteit van Stellenbosch les. "Dr. Nell het 'n paar jaar gelede by die RATEM Eisteddfod op Riversdal as beoordeelaar opgetree. Ek het baie van hom gehou en besluit dat hy 'n goeie rolmodel vir my musiekloopbaan kan wees."
Sy toekomsplanne sluit in om volgende jaar 'n diploma in musiekstudies aan te pak en om later by internasionale musiekskole kwalifikasies te ontvang.
"Daar is baie orrels in ons land wat staan en stof vergaar en ek wil volgende jaar begin om na sommige van hierdie dorpe te reis en op die orrels te speel en so weer belangstelling in orrelmusiek aanwakker. Ek beoog ook om in die toekoms na London te reis vir 'n toer na van die groot orrels daar."
Hy gaan ook in 2020 aan groot uitvoerings in Kaapstad en Pretoria deelneem om SAKOV en die Endlersaal se 40ste bestaansjaar te vier.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'