Roubeklaers, waaronder vele bekendes in die vermaaklikheidswêreld, het in groot getalle van heinde en ver gekom om hul laaste eer te betoon.
Van die bekendes wat die diens in die St. Barnabas Anglikaanse kerk bygewoon het, was Vinette Ebrahim, Denise Newman, Mary Daniels, Jody Abrahams, Cedwyn Joel, Basil Appollis, Willem Fransman (jnr) en Karen Kortjé.
Die oud-politikus, mnr. Peter Harmse asook Wessie van derWesthuizen, Eden Distrikmunisipaliteit burgemeester, het ook die diens bygewoon. Goliath Davids (83), legendariese dramaturg, akteur, verhoogkunstenaar, televisie/filmster, mentor en opvoeder, is na 'n kort siekbed op 11 Sepetember in die Worcester Medi-kliniek oorlede.
Davids, wat alombekend was in die vermaaklikheidswêreld as oom Gollie, was 'n baanbreker op die gebied van televisie en die groot doek en het destyds reeds sy merk as Selling Komoetie gemaak in die hoogaangeskrewe rolprent, Fiela se Kind.
Davids, 'n boorling van Heidelberg, het sy debuut in Harry's Kid gemaak en daarna in Jantjie kom huis toe. Hy het ook in ander rolprente, televisie- en verhoogproduksies verskeie rolle vertolk, waaronder Onder Engele waar hy saam met sy kleinseun, Christo Davids (Errol van 7de Laan) gespeel het. TV-reekse soos Soutmansland, Die Allemans, Stellenbosch en Meeulanders en rolprente soos Boy called Twist en Skeem is maar 'n paar waar sy naam op die rolverdeling verskyn het. Skeem, wat twee jaar gelede verfilm is, was dié legende se laaste verskyning op die groot doek.
Oom Gollie was instrumenteel in die loopbane van baie ander plaaslike sterre, waaronder Theodore Jantjies (Xander van 7de Laan), Maurice Paige (Calvin van Isidingo) asook die opkomende talent, William Michaels. Benewens sy besonderse talent in die vermaaklikheidswêreld, was hy op sy dag 'n talentvolle rugbyspeler en het hy veral op senter uitgeblink, waar hy dan ook vir Swartland en SWD verteenwoordig het.
Saterdag het Ebrahim 'n hartroerende, dog joviale huldeblyk aan dié ikoon opgedra. Sy het ook huldeblyke van Shaleen Surtie-Richards, Joel, Newman en ander bekendes voorgelees. Ter afsluiting van haar huldeblyk het sy die begrafnisgangers gevra om vir Davids 'n staande ovasie te gee vir sy groot rol as baanbreker in die dramawêreld, veral vir bruin akteurs. "Jy kon nie vir 'n meer bekwame akteur en leermeester vra nie. Sy liefde en passie was sy resep vir sy sukses in die bedryf," het sy gesê en bygevoeg dat oom Gollie hom ingeleef het in alles wat hy gedoen het. "Wie sal King Lear kan vergeet?"
Basil Kivedo, uitvoerende burgemeester van die Breedevallei munisipaliteit, 'n oud-kollega en vriend, het Davids as 'n baie nederige mens in sy huldeblyk beskryf. Mnr. Rudolph Plato, bekende rugby administrateur wat destyds saam met Davids vir SWD gespeel het, het ook hulde gebring. Newman het Davids as volg opgesom. "Oom Gollie was 'n reus soos Goliath, dog sag en dapper soos Dawid," het Newman hartseer gesê.
Die Davids gesin se hartseer was duidelik op hul gesigte te bespeur terwyl Kortjé en 'n metgesel The Prayer gesing het. Tydens die ter aardebestelling was die drie dogters, Lynn Meyers, Gillian Malgarte en Prudence Davids-Julies deurgaans deur veral hul broer, Peter-John Davids, ondersteun en vertroos. Christo Davids (Errol van 7de Laan) was ook duidelik bewoë.

Jefferson en Lloyd Davids dra voor met die ander broer, Peter-John en die drie susters agter