Die projek was reeds vir maande beplan en is aangebied in die Gouritsmond gemeenskapsaal. Heelwat reëlings is getref om die dag baie spesiaal vir al die kinders te maak, 'n dag om te onthou! Rolspelers is gekontak, hope oproepe is gemaak, e-posse gestuur en advertensies versprei om dit onder almal bekend te maak om die spesiale dag by te woon.
Propvol program vir jongspan
Op 11 Julie was al die harde werk beloon en het selfs die weer saamgespeel! Die rolspelers van die Mosselbaai Langeberg honde-eenheid, beamptes van die Hessequa munisipaliteit se wetstoepassingafdeling (brandweer), FCS (voorheen kinderbeskermings eenheid) en lede van die Gouritsmond GPF sub-forum was almal teenwoordig. Altesaam 38 kinders het opgedaag vir die verrigtinge. Die dag is geopen deur John Barnard van Gouritsmond, waarna Antoinette Jordaan, GPF sekretaresse 'n interessante praatjie aangebied het oor netheid, selfbeeld en dissipline.
Honde-eenheid lewer vertoning
Konsts. Hector, Dilingwa, Mare en Kapp van die Mosselbaai Langeberg honde-eenheid het 'n pragtige hondevertoning gelewer. Die kinders het met groot versigtigheid die honde dopgehou. Daar is gewys hoe die hanteerders onder andere dwelms en springstof met die hulp van die opgeleide honde uitsnuffel. Arrestasie tegnieke is gewys en konst. Kapp het sy nuwe hond bekendgestel. Die kinders het die vertoning baie geniet.
Brandweer wys hoe
Die plaaslike brandweer het die kinders meer vertel van die hantering van brandsituasies by die huis, as persoon en in die omgewing. Die 'wat' en 'hoe' is tuisgebring vir verskillende brandsituasies. Daar is veral klem gelê op wanneer kinders alleen tuis is, asook die gevare wat brande kan inhou. 'n Waarskuwing teen brandstigting is ook gerig, veral in die lig van soveel skade wat aan mense en eiendom aangerig kan word.
Veiligheid
A.o. Badenhorst en Jorrie Jordaan, GPF voorsitter het die kinders toegerus rondom veiligheid. Basiese veiligheid in en om die huis en die gevare wat dinge soos skoonmaakmiddels, medisyne en dwelms kan aanrig is uitgelig. Die kinders is ook ingelig hoe om vreemdelinge te hanteer.
Beskerm jou lyfie
Die program is afgesluit met 'n praatjie deur a.o Marx en me. Redman met 'Zet' (FCS) wat die kinders toegerus het rondom kindermishandeling. Dit is in vandag se tye baie belangrik vir kinders om te weet hoe om hulself te beskerm, veral teen kindermolestering. Die boodskap, 'Hoe om jou lyfie te beskerm' het ingesluit dat indien iemand hierdie ongeoorloofde dade of betasting sou pleeg, die kind dit onmiddelik moet rapporteer aan die polisie, 'n onderwyser of ander volwassene.
Na die dag se suksesvolle program is die kinders trakteer met 'n heerlike middagete wat deur tannie Joahnnie Piater gekook is. Die broodjies is deur Sanet Nieuwoudt geskenk. Elkeen het ook 'n lekkergoedpakkie en inkleurboek ontvang om huis toe te neem.
* Gouritsmond GPF bedank al die rolspelers vir hul aandeel aan die projek en in besonder a.o. Tia Badenhorst vir die inisiatief en koördinering, oom Rynol Piater en Tinkie Piater wat heeldag uitgehelp het.
Die groepie het heel gretig by die polisievoertuig poseer vir 'n foto.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'