Update
RIVERSDAL NUUS - Die opgegradeerde rioolwerke op Riversdal is op 'n nat Donderdagoggend, 14 Oktober amptelik deur die minister van plaaslike regering in die Wes-Kaap, Anton Bredell geopen.
Nadat die span van Hessequa-munisipaliteit se tegniese dienste vir Bredell en die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles deur die terrein geneem het om die opgegradeerde stelsel te verduidelik, het Bredell die lint geknip en die indrukwekkende rioolwerke amptelik oop verklaar.
Shahida Kennedy, bestuurder: siviele beplanning en projekbestuur by die munisipaliteit het ter agtergrond verduidelik dat die munisipaliteit reeds in 2014 aansoek vir die opgradering gedoen het.
Die omvang het behels die bou van nuwe, moderne inlaatwerke, 'n vet- en olieverwyderingstelsel, die aanbring van 'n inkomende rioollyn na die nuwe inlaatwerke en meganiese en elektriese toerusting.
Willie Spies, rdl Grant Riddles en min Anton Bredell luister aandagtig terwyl Stuart Morris die werking verduidelik.
Weens beperkte MIG (Municipal Infrastructure Grant)-befondsing, was die Raad genoodsaak om die projek in fases te implementeer. Die bouwerk is in 2016/2017 begin en in 2019/2020 teen 'n bedrag van R21 000 000 voltooi, waarvan R11 500 000 vir meganiese en elektriese werk en R9 500 000 vir siviele werke.
Tydens konstruksie was daar 47 tydelike werksgeleenthede geskep wat tot werkskepping in die Riversdal-gebied bygedra het.
Die vet- en oliebehandelingstelsel help met die vertering en hantering van riool vanaf die plaaslike kaasfabriek, sowel as die abattoir. Dit verbeter ook die finale uitvloei.
Die opgradering dra verder by tot die nakoming van die groendruppel-vereistes en die hidroliese kapasiteit is verhoog vanaf 2.7 tot 4 megaliter per dag. Verdere ontwikkelings en toekomstige bevolkingsgroei kan ook nou geakkommodeer word.
Bredell het in sy toespraak die munisipaliteit bedank vir hulle harde werk en dit wat hulle vermag. Volgens hom is Hessequa een van die beste munisipaliteite in die Wes-Kaap en het spesifiek na die brandweerdienste verwys wat in vyf dorpe in die streek gevestig is.
Riddles het gesê dat daar in die verlede baie huise gebou is, maar die infrastruktuur het agterweë gebly. "In die laaste vyf jaar het Hessequa dit omgekeer en seker gemaak dat die infrastruktuur die invloei van mense kan akkommodeer."
Die beheerkamer van die opgedradeerde rioolwerke.
VORIGE ARTIKEL: Minister Bredell open rioolwerke
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'