RIVERSDAL NUUS - Nee, nie Hofmeyr nie! Ook nie Marais, van Stellenbosch nie!
Hierdie Jan sou jou nooi vir 'n maaltyd, uit die see. Alikreukel, en wel veral met seeslaai. Hy het die goedheid van kos uit die see beslis baie belangrik geag.
Sy honde het besondere name gehad. Een is genoem Skylo, na die Griekse woord "skulos" wat "hond" beteken. Die ander is Arieb, Khoi-taal vir "hond" en ook 'n anagram vir hul van.
Ja, hierdie Jan is nie in Riversdal gebore nie, maar in George op 14 November 1920, maar het wel hier skoolgegaan. Hy was klaarblyklik 'n dromer in die klas, maar het tog, omdat daar geen Afrikaanse bron beskikbaar was nie, die familie se Engelse ensiklopedie van 20 bundels deurgewerk.
Hy het meeste van sy jong lewe vanaf 1926 op die plaas Riethuiskraal deurgebring waar, in sy eie woorde: "Die rivier van my jeug haal nog asem in die kronkels van my drome; die getye van daardie liefde stu nog steeds deur my skryfwerk, onverloorbaar myne."
Die pont, naby hul plaashuis, so 14 km van Stilbaai af, het met 'n kabel oor die water beweeg en was die enigste verbinding tussen die ooste- en westekant van die rivier.
Ja, natuurlik is dit niemand anders as Jan Rabie nie. Hy is 'n dag na sy 81ste verjaarsdag op 15 November 2001 in Onrusrivier oorlede, waar vele van sy medesestigers saamgekom het om dié uitsonderlike man ter ruste te lê.
André P Brink het dit benadruk dat Rabie eintlik min of meer eiehandig die hele koers van Afrikaanse prosa verlê het. Ook dat feitlik niks wat ná 1956 in Afrikaans die lig gesien het, denkbaar is sonder sy bydrae nie.
JC Kannemeyer het genoem dat Rabie in die hoë literêre kringe 'n "lastige vlieg" genoem is, want Jan se uitkyk oor die lewe en mense was onbuigbaar eerlik, waar ander mense die waarheid sou verdoesel het.
Hy het soveel respek vir mense gehad, behalwe wanneer skynheiligheid en eiebelang hul lewensuitkyk is. Dan was Jan Rabie genadeloos.
Hy't tot sy eie uitgewery gestig en dit Mishoring Pers genoem, waarmee hy vroegtydig mense wou waarsku teen die gevare van liefdeloosheid en 'n bedreiging van die Afrikaanse taal. So, voeg Kannemeyer by, het Rabie Afrikaans gered, lank voor mense besef het dat dit bedreig word. Ook dat Jan 'n deurslaggewende rol in die vernuwing van Afrikaans in die sestigerjare se letterkunde gespeel het en selfs voorloper en wegbereider was.
Hy was veral 'n politieke kritikus. Behalwe vele ander sieninge, wou hy hê Afrikaans moet as 'n gemeenskaplike taal onder die mense wees.
Jan is in 1948 Parys (nie in die Vrystaat nie) toe, waar hy 'n Skotse skilder, Marjorie Wallace, ontmoet het. Hulle is in 1955 getroud en het daarna na Suid- Afrika verhuis en meer as vyftig jaar saam, soos Andre P. Brink dit noem, "sy lewe gedeel en haar eiesoortige lewensblyheid tot sy visie bygedra het."
Jan Rabie het in sy leeftyd 17 novelle, drie kortverhale, sewe nie-fiksie boeke en twee jeugnovelle geskryf, waarvan een Seeboek van die sonderkossers is. Hy het ook oor Stellenbosch se skrywers geskryf.
"Ons is almal vandag armer. Maar wat van Jan oorbly, sal met ons voortgaan so lank as wat Afrikaans in die land gehoor word, en solank as wat ons literatuur bly saak maak," aldus André P Brink by Jan Rabie se begrafnis.
(Saamgestel, uit koerantberigte en inligting in die Julius Gordon Africana Sentrum/ Versfeld-Huis, deur die kurator, Louise du Plessis).
Die skrywer Jan Rabie is op 14 November 1920 gebore en het grootgeword en in Riversdal skoolgegaan. Hy sou sy 109ste verjaarsdag aanstaande Dinsdag gevier het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’