Update Video
SUID-KAAP NUUS EN VIDEO - Intensiewe navorsing oor waar ons spesie vandaan kom, word reeds vanaf 2009 gedoen en nie net universiteite in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland is hierby betrokke.
Doktore Jan de Vynck en Susan Botha is by die African Centre for Coastal Palaeoscience van die Nelson Mandela Universiteit waar hulle betrokke is by studies oor die oorsprong van moderne Homo sapiens in die Suid-Kaap, of in die breë Kaap.
Volgens De Vynck, senior navorser en sentrumdirekteur dui die getuienis wel op die Suid-Kaap as die oorsprong van ons spesie se kognitiewe vermoëns.
"Die oudste en meeste bewysstukke van kuns, simboliese uiting, alles, is hier," sê hy. Om dié rede is hulle vir die afgelope weke reeds by die Lions-klub in Stilbaai waar hulle poog om die hulpbron-ekonomie van die natuurlike hulpbronne in die Suid-Kaap vir jagter-versamelaars verder te bepaal.
Kyk 'n video hieronder:
Unieke bioom
"Ons weet dis 'n baie unieke habitat, die fynbos-bioom, in vergelyking met ander soorte habitat wat mense in Afrika sou kon hê. Ons het onsself afgevra of die fynbos-bioom met sy uniekheid nie dalk in hierdie kognitiewe revolusie van ons spesie 'n rol gespeel het nie."
Hulle kyk egter ook na die see, aan die grens daarvan, die intergetysone en die skulpkos.
"Die skulpkos is die hoogste in terme van kalorieë-produktiwiteit wat nog ooit ter wêreld opgeneem is. Die mens kry gemiddeld 1 500 kalorieë per uur as hulle afgaan see toe om skulpkos te versamel.
"Brandhout was ook belangrik vir jagter-versamelaars vir verskeie redes en ons doen tans inheemse brandhout-eksperimente om te verstaan hoe die bydrae van hierdie komponent van die hulpbronpalet die mens sou affekteer het," sê De Vynck. Hier kyk hulle of die hout gou opraak en of hulle dan moes migreer, of daar baie hout is en het dit die moontlikheid gegee om ingenieursvernuf moontlik te maak wat op ander plekke nie kon gebeur nie.
"Ons begin reeds sien dat eersgenoemde nie waar is nie, want in die fynbos-bioom is daar verskriklik baie droë hout. Susan het haar doktersgraad in plantkos met inheemse mense van onder meer Melkhoutfontein, Bitouville by Gouritsmond gedoen. Die mense gaan saam met haar uit in die veld waar hulle die eerste gradering doen en brandhout met spesifieke metodes versamel.
"Hulle weet watter spesies en wat die name daarvan is, wat werklik 'n groot hulp en bron van kennis vir ons is," vertel Botha. Op dié manier kan gekyk word na die produktiwiteit en betroubaarheid kyk van hierdie natuurlike hulpbronne in die fynbos-bioom wat inheemse brandhout is.
"Die hout kom dan hierheen, waar ons vure per spesie doen wat vir ons die waarde gee van hoe goed die verskillende spesies as 'n brandhout is," sê De Vynck.
Ingenieursvernuf
Volgens hom het mense ten minste 160 000 jaar plus 'n sekere soort rots gevat (silkreet), wat hulle met hitte behandel het soos wat mens 'n pot in 'n oond bak.
"Daar is dus 'n ingenieursvernuf wat die mense lank gelede besit het. Hierdie is al die derde globale poging van 'n groot groep mense waar ons probeer uitwerk hoe hulle dit gedoen het."
Op haar beurt vertel Botha dat by die bekende grot, Pinnacle Point by Mosselbaai onder meer pylpunte gekry is wat 'n baie blinkrooi kleur het. 'n Soektog na dié besondere klip in die omgewing het niks opgelewer nie en het hulle agtergekom dat die klippe gebak is.
"As jy dit bak, verander die kleur van 'n room na 'n blinkrooi kleur. Van hierdie pylpunte is in die Stilbaai-gebied gevind en is regtig 'n mooi kuns," sê sy.
Die navorsers het probeer bepaal hoe die klippe gebak is. "Ons is al die afgelope drie weke besig hiermee en kon dit nog nie bepaal nie."
Botha het afgesluit deur te sê dat ons DNA wys dat ons nader aan mekaar verbind is as sjimpansees van dieselfde familie. "Dit beteken dat ons spesies deur 'n bottelnek gegaan het en amper uitgesterf het. Die vermoede is dat net ongeveer 600 oorleef het en vandaar het ons in Afrika en in die wêreld versprei. Die mens is nou op soek waar dit was - en soos Jan gesê het, is die Suid-Kaap 'n baie sterk kandidaat."
Al die inligting wat versamel word, word in 'n databasis gestoor en word tegnologie gebruik om die verlede te probeer verstaan.
Van die klipmonsters wat vir ontleding weggestuur word. Foto's: Wilma Adamson
Vorige artikel: Waar kom ons spesie vandaan?
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'