STILBAAI NUUS - Vrae oor die verkoop en beoogde ontwikkeling van 'n stuk grond met sensitiewe plantegroei in Stilbaai het nou tot 'n versoek om 'n onafhanklike ondersoek gelei.
Adv. Gert van Niekerk, VF Plus-streekleier in die Tuinroete, het 'n onafhanklike ondersoek aangevra na die wyse waarop die Hessequa-munisipaliteit 'n gedeelte van erf 657 in Stilbaai vir vervreemding en ontwikkeling hanteer het.
Die 3,29ha-gedeelte van erf 657, geleë op die hoek van Hoofweg-Wes en die Jongensfontein-pad, is op 23 Desember 2025 tydens 'n openbare veiling aan Ziphon Trading and Investment (Pty) Ltd verkoop.
Die raad het op 23 Januarie die hoogste aanbod goedgekeur.
Volgens Van Niekerk het 'n omgewingsondersoek intussen 'n hoë konsentrasie beskermde bome en sensitiewe plantegroei op die oorspronklik geïdentifiseerde ontwikkelingsarea aangetoon.
'n Voorstel is gevolglik ingedien om die ontwikkelingsgebied na 'n minder omgewingsensitiewe gedeelte van dieselfde eiendom te verskuif.
Die ontwikkeling bring volgens Van Niekerk vrae mee oor die oorspronklike besluit en oor die aard van die eiendom wat tydens die openbare veiling verkoop is.
Munisipaliteit reageer
Die Hessequa-munisipaliteit het aan Suid-Kaap Forum gesê die vervreemding van die ongeveer 3,29ha-gedeelte van erf 657, Stilbaai-Wes, is deur die raad in ooreenstemming met toepaslike wetgewing goedgekeur.
Volgens die munisipaliteit is onder meer die eiendom se billike markwaarde, openbare insette wat tydens die openbare deelnameproses ontvang is, asook kommentaar van Nasionale Tesourie, in die besluitnemingsproses oorweeg.
Die eiendom is daarna op 23 Desember 2025 tydens 'n open-bare veiling te koop aangebied.
Die raad het op 23 Januarie 2026 die hoogste aanbod goedgekeur.
Die munisipaliteit sê 'n biodiversi-teitskompensasiestudie wat in Mei 2026 uitgevoer is, het die koper se omgewingskonsultant in staat gestel om 'n hoë konsentrasie beskermde plantegroei op die oorspronklik geïdentifiseerde ontwikkelingsarea te identifiseer.
Die koper het gevolglik versoek dat die voorgestelde ontwikkelings-area van 3,29ha na 'n minder omgewingsensitiewe gedeelte van dieselfde eiendom verskuif word.
Die voorstel maak terselfdertyd voorsiening vir 'n biodiversiteits-kompensasiegebied op die eiendom.
Volgens die munisipaliteit is dit juis dié voorgestelde wysiging - die verskuiwing van die ontwikkelings-area en die instelling van 'n biodiversiteitskompensasiegebied - wat tans vir openbare kommentaar geadverteer word.
Belanghebbendes en geaffekteerde partye word genooi om kommentaar of besware op die voorstel voor of op 4 September om 12:00 by die munisipaliteit in te dien.
Die munisipaliteit het benadruk dat alle kommentaar wat ontvang word, behoorlik oorweeg sal word as deel van die verdere besluitnemingsproses.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’