RIVERSDAL NUUS - Die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal hark goue koring nader.
Die skool het weer 'n 100%-slaagsyfer in verlede jaar se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen behaal. Dié skool spog die afgelope vyf jaar (2020 - 2024) met 'n 100%-slaagsyfer.
Altesaam 81 van die 84 matrikulante het universiteitsvrystelling verkry en 121 vakonderskeidings behaal.
Die topkanditaat, Ian Enslin, het 'n gemiddeld van 90% met agt onderskeidings verwerf.
Oakdale is as die beste skool in Kring 1 (Hessequa en Kannaland) aangewys en dié kring het die beste in die hele Wes-Kaap gevaar. “Ons is ontsettend trots op ons seuns, hul ouers en die onderwysers,” sê die hoof, Willem du Buisson.
En nou kyk hy behoorlik dubbel en tot die tweede mag, want Oakdale verwelkom vier gr. 8-tweelinge.
Dié Bulletjies is Fourie en Retief Brits (Stilbaai), Franko en George Jordaan (Riversdal), Christiaan en Deniel Steyn (Swellendam) en Daniël en Graham Wehr (Stilbaai).
“Mag hulle dubbele vreugde by Oakdale ervaar,” sê Du Buisson.
Nie net lyk van die tweelinge eenders nie, maar selfs van die amper eendersklinkende name soos Deniel en Daniël kan nogal verwarring meebring...
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’