Update
HEIDELBERG NUUS - Die gewag om 'n volwaardige skoolsaal te benut, het eindelik 'n werklikheid geword vir die leerders en personeel van Kairos Senior Sekondêr.
Die prinsipaal, Vivian Prins, het Maandag 4 November die sleutels van die kontrakteurs in ontvangs geneem.
Die bouwerk wat sowat drie weke voor skedule voltooi is, het vier maande geduur.
Prins het tydens die kort oorhandigingseremonie die rolspelers vir hul bydrae bedank om dié droom te laat realiseer.
Hy het gesê dat hulle beplan om die amptelike inhuldiging van die saal vroeg volgende jaar te hou.
Die daarstelling van 'n skoolsaal was sedert sy aanstelling as prinsipaal sowat agt jaar gelede 'n groot dryfveer vir hom, sy personeel en die beheerliggaam.
Voor die projekbestuurspan, wat die verskeie rolspelers onder leiding van Irvin Human van die boukontrakteurs insluit, die sleutels oorhandig het, het Human vir Prins bedank vir die skool se goeie samewerking om die spoedige afhandeling van die bouwerk te bewerkstellig.
Volgens Prins benodig die skool nog R175 000 van die oorspronklike R300 000 wat hulle moes bydra van die ongeveer R6 miljoen onkostes.
Garden Cities (Archway Foundation), die nie-winsgewende maatskappy wat die projekfasiliteerders was, het die skool 'n welkome korting van R75 000 toegestaan.
Die rolspelers was by die bou van die skoolsaal betrokke. Van links is JC Snyman (AMPS Quantity Surveyors), Leon Nightengale (FL Nightengale OHS Consultants), Lyle Raatz (GR Building & Steel), Ralph Small (W7F Electrical), Irvin Human (GR Building & Steel), Vivian Prins, Desiree Ludick (FADS), André Alexander (Garden Cities Archway Foundation), Henry Foster (FADS argitek) en Marwaan Firfirey (OWS Engineers).
Hy rig 'n pleidooi aan alle oudleerders, onderwysers, plaaslike besighede en inwoners om hulle te ondersteun om dié teiken so gou moontlik te bereik.
"Elkeen se bydrae sal erkenning geniet deur donateurs se name op 'n gedenkplaat in die vorm van 'n steenmuur aan te bring."
Belangstellendes kan die skool by 028 722 2920 of Prins by 084 245 9995 skakel, of e-pos aan kairossec@gmail.com of vivianrprins@gmail.com.
Lees 'n verwante artikel: Skoolsaal eiendelik 'n werklikheid
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'