Update
RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa-abattoir, wat sy deure op 14 Junie vanjaar moes sluit, kan binnekort met 'n nuwe operateur spog.
Suid-Kaap Forum het verneem dat Hessequa Meat (Edms.) Bpk. die nuutaangestelde operateur is, maar dis onderhewig aan die toestaan van 'n lisensie deur die Wes-Kaapse department van landbou.
Francois Loots, kommersiële hoof-bestuurder van SSK, sê hulle het 'n huur-ooreenkoms met 'n filiaal van Overberg Meat, naamlik Hessequa Meat, aangegaan.
SSK besit 'n meerderheidsbelang van 52,8% in die Hessequa-abattoir.
"Ons is in dié stadium nog besig om die abattoir te registreer by die Wes-Kaapse departement van landbou en wag nog vir 'n nuwe lisensie, maar ons glo en vertrou dat dit wel eersdaags uitgereik sal word."
Hessequa Meat is 'n volfiliaal van Overberg Meat (Edms.) Bpk, wat deel vorm van die Acorn Agri and Food Bpk-groep van maatskappye.
Overberg Meat, met sy abattoir geleë in Bredasdorp, is al meer as 'n dekade in die vleisverwerkingsbedryf en verskaf slagfasiliteite vir skape en beeste en versprei karkasse na die klein- en groothandelmarkte, wat kliënte fasiliteer om regoor Suid-Afrika sowel as internasionaal vars vleis te verkoop.
Loots sê die Hessequa-abattoir, geleë langs Mulderstraat en aangrensend aan die Riversdal-verkeersdepartement in Riversdal, was 'n hoeksteen van vleisverwerking en -verspreiding in Suid-Afrika.
"Sedert ons stigting in 2007 was ons toegewyd aan die verkryging, verwerking en verspreiding van kwaliteit-vleisprodukte aan groothan-delaars en slagters regoor die land.
"Ongelukkig is die besluit op 14 Junie 2024 deur die direksie van Hessequa Abattoir (Edms.) Bpk. geneem om vleisverwerkingsbedrywighede by die Hessequa-abattoir te staak.
Loots sê Hessequa Meat, tesame met die ondersteuning van Overberg Meat, sal voort-gaan om 'n hoë deurset-abattoir te wees met die trotse tradisie om vee direk van plaaslike produsente te verkry, wat 'n direkte skakel tussen plaaslike boere en die plaaslike en internasionale markte sal verseker.
"Hessequa Meat sal verder voortgaan om die sertifisering van die Suid-Afrikaanse Nasionale Halaal Owerheid (SANHA) te besit om te verseker dat hul produkte aan die standaarde van Halaal-dieetvereistes voldoen.
"Klante sal op Hessequa Meat kan staatmaak vir hul vleisvoorraadbehoeftes aangesien Hessequa Meat direk vir bestellings gekontak kan word.
"Produsente is ook welkom om Hessequa Meat vir nood-slagtings gedurende hierdie oorgangstydperk te kontak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’