RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa-abattoir sluit vandag (Vrydag 14 Junie) sy deure wanneer die laaste slagtings afgehandel word.
Die toekoms en/of voortbestaan van een van die grootste werkgewers in Hessequa hang nou in die weegskaal tot tyd en wyl daar groter duidelikheid is oor die pad vorentoe.
Maar sluit die abattoir permanent, met geen toekomsvooruitsigte nie, sal dit 'n groot terugslag wees wat die streek kwalik sal kan bekostig. Dis meer as bloot net 45 werknemers wat hul werk gaan verloor. Gesinne en letterlik tientalle afhanklikes gaan daaronder ly.
Suid-Kaap Forum het met Francois Loots, kommersiële hoofbestuurder van SSK, oor die moontlike permanente sluiting van die abattoir gesels. Hy het bevestig dat die Hessequa-abattoir sy deure Vrydag sluit, maar hy sê Hessequa-abattoir se direksie het reeds voelers uitgesteek en is besig om met potensiële operasionele huurders en kopers te gesels.
Intussen, sê Loots, is hulle in onderhandelinge met werknemers en vakbonde soos wat deur arbeidswetgewing vereis word.
Gepols oor die redes vir die staking van hul bedrywighede as slagpale, sê Loots dis algemene kennis dat die rooivleisbedryf in Suid-Afrika die afgelope paar jaar verskeie uitdagings in die gesig staar en Hessequa is geen uitsondering nie.
"Verskeie eksterne faktore buite ons beheer, soos stygende brandstofpryse, beurtkrag en hoë rentekoerse het talle besighede nadeling geraak. Baie moes hul deure sluit omdat veral die kleiner rolspelers in die mark eenvoudig net nie die hulpbronne het om in só 'n omgewing te oorleef nie.
"Boonop het veranderde verbruikerspatrone nog groter druk geplaas op ons kostes en slaggetalle."
Loots sê nog 'n faktor is dat van die groothandelaars en winkelkettingroepe ander voorsieningskanale ontsluit het. "Dit het die abattoir se toegang tot die eindverbruiker verder aan bande gelê."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’