Update
RIVERSDAL NUUS - Die nuwe skoolhoof van Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal is 'n onderwysman in murg en been.
Die Wes-Kaap onderwysdepartement het op Vrydag, 1 Oktober die aanstelling van mnr Willem du Buissson (48) van Bloemfontein bekragtig.
Hy sal begin volgende jaar die leisels by mnr André Latsky oorneem, wat aftree.
Du Buisson beskik oor 'n BSc-graad, HOD en B Ed-kwalifikasie. Sy vakke is fisiese wetenskap, wiskunde en natuurwetenskappe. Hy dien sedert 2019 op die uitvoerende bestuur van die Suid-Afrikaanse onderwysunie (SAOU). Hy is in 2005 tot adjunkhoof van HTS Louis Botha in Bloemfontein bevorder en is sedert 2015 skoolhoof van Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein.
Du Buisson, sy vrou Ansie en hulle twee kinders, Nicolas (20) en Ansua (13) is baie opgewonde oor die nuwe seisoen in hul lewe op Riversdal. Hulle sien ook uit na die vooruitsig om volgende jaar deel van die Oakdale-familie en plaaslike gemeenskap te word.
"Om aansoek vir die hoofpos tedoen was 'n saak van gebed. Ek het 'n Goddelike roeping vir die onderwys, daarom moet ek gehoorsaam wees as die Here met my praat. Hoër Landbouskool Oakdale is beslis dié toonaangewende landbouskool in Suid-Afrika. Oakdale ding mee teen die beste skole in Suid-Afrika op akademiese, -sport en kultuurterrein en staan nie 'n tree terug vir baie groter skole nie.
"Geleenthede om die skoolhoof van so 'n hoogs suksesvolle skool te word, gebeur net een keer in 'n mens se professionele loopbaan en moet aangegryp word!"
Hy het bygevoeg dat 'n mens slegs vorentoe kan beweeg as jy weet waar jy vandaan kom en wie die pad vir jou voorberei het, daarom is die handhawing van trotse tradisies ononderhandelbaar.
"Ons spreek die hoop uit dat mnr du Buisson en sy gesin baie gelukkig op Oakdale en in Riversdal sal wees," het Latsky gesê.
Vorige artikel: Oakdale kry nuwe hoof
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'