RIVERSDAL NUUS - Hessequa-munisipaliteit se planne om plaaslike energie-onafhanklikheid te versterk, het Vrydag 21 Augustus onder die soeklig gekom toe 'n afvaardiging van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP/NCOP) die munisipaliteit besoek het as deel van sy Provinsiale Week-program.
Die besoek het gefokus op Hessequa se vordering met infrastruktuur en dienslewering, met besondere aandag aan die munisipaliteit se groenenergiestrategie en die ontwikkeling van 'n 10 MW-sonkrag-PV-aanleg met 'n 10 MWh-battery-energiebergingstelsel naby Riversdal.
Die munisipale bestuurder, Albert de Klerk, het die afvaardiging oor Hessequa se energiestrategie ingelig en gewys op die munisipaliteit se ontwikkeling van kleiner sonkragprojekte tot die huidige grootskaalse energieprojek.
Hessequa beslaan sowat 5 700 km² en het ongeveer 70 000 inwoners, 14 000 huishoudings en meer as 2 200 kommersiële plase.
Volgens die munisipaliteit plaas toenemende elektrisiteitsvraag, tesame met uitdagings op die nasionale kragnetwerk, druk op betroubare dienslewering en plaaslike ekonomiese ontwikkeling.
Die munisipaliteit het reeds in 2011 'n 30 kWp-sonkrag-PV-stelsel by die Riversdal-hoofwatersuiweringswerke geïnstalleer.
Die Witsand-sonkrag-aangedrewe ontsoutingsaanleg, wat in 2019 in werking gestel is, was nog 'n vroeë stap in Hessequa se strewe na hernubare energie.
Verskeie kleiner sonkragstelsels is sedertdien by munisipale fasiliteite geïnstalleer.
Dit sluit onder meer die Riversdal-burger-sentrum, Riversdal se elektrisiteitsafdeling, Witsand se munisipale kantoor, die Stilbaai-beskermingsdienste, Albertinia en Heidelberg se munisipale kantore en die Thusong-sentrum in Riversdal in.
Sommige van dié projekte is moontlik gemaak deur finansiering uit die Energy Efficiency and Demand Side Management (EEDSM)-program van die departement van elektrisiteit en energie.
10 MW-sonkragaanleg
Die fokus is nou op Hessequa se vlagskipenergieprojek - 'n 10 MW-sonkrag-PV-aanleg en 10 MWh-battery-energiebergingstelsel wat naby Riversdal geleë sal wees.
Die projek vorm deel van die Wes-Kaapse regering se breër energieveerkragtigheids-program en het 'n geraamde befondsing van R231,2 miljoen.
Die Wes-Kaapse regering dra 74,8% van die befondsing by, terwyl Hessequa-munisipaliteit die oorblywende 25,2% bydra.
Die ontwikkeling bou voort op meer as 'n dekade se belegging in hernubare energie en is daarop gemik om Hessequa se vermoë om elektrisiteitsuitdagings die hoof te bied, verder te versterk.
Die NRP-besoek vorm deel van sy toesigrol en is daarop gerig om te bepaal of vorige aanbevelings en regeringsverbintenisse tot sigbare vordering en beter dienslewering op grondvlak gelei het.
Die afvaardiging het gedurende Provinsiale Week ook terugvoer ontvang oor infrastruk-tuurprojekte en dienslewering in verskeie Wes-Kaapse munisipaliteite.
Volgens die NRP bly uitdagings soos infrastruktuur, befondsing, rampverhaling, grond, elektrisiteit en samewerking tussen regeringsfere steeds onder die kwessies wat munisipaliteite se vermoë om dienste te lewer, beïnvloed.
Rikus Badenhorst, leier van die NRP-delegasie, het beklemtoon dat Provinsiale Week uiteindelik aan tasbare verbeterings in gemeenskappe gemeet moet word.
"Ons verantwoordelikheid as parlement is nie bloot om verslae te ontvang nie; ons moet verifieer of verbintenisse in dienslewering op die grond omskep is," het Badenhorst gesê.
Die besoek aan Hessequa het die munisipaliteit se groenenergiestrategie en die rol wat hernubare energie in toekomstige energiesekerheid en volhoubare dienslewering kan speel, onderstreep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’