HEIDELBERG NUUS - 'n Groep van 15 jongelinge en die bestuurder van 'n minibus was vroeër vanoggend gelukkig om ernstige beserings vry te spring nadat die taxi waarin hulle oppad Kaapstad toe was, die pad verlaat en in die bosse beland het.
Volgens konst. Keeno Fredericks, plaaslike mediabeampte, is hulle ingelig van 'n ongeluk by Krombeksrivier, net buite Heidelberg.
Met hul aankoms het hulle 'n minibus op sy kant langs die N2 gevind.
Die groep was oppad Kaapstad toe met hul ouers wat in 'n tweede taxi voor hulle gery het. Die groep, afkomstig van verskeie dorpe in die Oos-Kaap, was onderweg na 'n familiereunie.
Die jongmense is per ambulans na die Riversdal-hospitaal geneem en vir ligte beserings behandel.
Die oorsaak van die ongeluk is onbekend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’