Volgens Sal Carter, pasiënt koördineerder wil sy hê kankerlyers moet besef hul hoef nie die pad alleen te stap nie. "Ons stap saam met jou in jou siekte en ons weet hoe die aanvanklike diagnose 'n vernietigende effek op jou kan hê: Die uiterste gevoelens van wanhoop en hulpeloosheid. Die vrae wat opduik, soos byvoorbeeld 'Sal ek in staat wees om na my kinders te kyk' en 'Hoe sal ek kan gaan vir die behandeling' en 'Sal ek pyn ervaar' - dan wil ons hê julle moet weet ons is daar vir bystand."
Sal noem dat hulle al gesien het hoe dapper die pasiënte die chemoterapie hanteer. "Die vroeg opstaan, sommer voor sonopkoms om vervoer te word na George of Kaapstad. Die eindelose ure se gewag om behandeling te ontvang. Die terugkeer na die huis, hoe uitgeput julle is, die naar gevoel, maar dan moet jy nog voortgaan met jou daaglikse take, of jou werk."
Volgens haar is hul trots op die pasiënte wat soms dae lank weg is van hul huise om by die interim huis te bly om hul behandeling te ontvang. "Ons verstaan hoe frustrerend dit kan wees om te wag vir 'n dokter of jou medikasie en ons erken jul geduld." Sal vertel dat hulle as vrywilligers glad nie inbreuk wil maak op die pasiënte se privaatheid nie en sal slegs hul besoek tensy 'n versoek gerig word deur die pasiënt, 'n dokter of 'n familielid.
Sy sluit af met: "Ons wil graag hê elkeen moet weet dat ons bewonder jou moed en dapperheid. Ons wil jou kan wegneem van jou pyn. Ons is hier om te loop langs jou op jou reis, ons wil jou troos, aanmoedig, luister en help waar ons kan. Ons gee om vir jou en is lief vir jou."
Sy wil ook van die geleentheid gebruik maak om almal wat 'n bydrae lewer vir die kankerpasiënte te bedank vir al hul gebreide items wat hul skenk aan hulle. "Ek het die groot eer om dit aan hul te oorhandig en dis vir my 'n wonderlike gevoel om hul blydskap te ervaar, hul glimlagte en waardering vir jul harde werk. Dit gee my sommer so lekker warm gevoel in my hart."
Skakel gerus vir die voorsitter, Elfrieda Pieterse by 072 374 8025 vir enige navrae of meer inligting.

Sal Carter saam met Dora Esau van Kwanukathula.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'