STILBAAI NUUS - 'n Eksperiment deur 'n filatelis het bewys daar is nog lewe in die posdiens.
Karel Nel, sekretaris van die Stilbaai-filatelievereniging het in posgeskiedenis-projekte as onderafdeling van seëlversameling begin belangstel.
Omdat baie mense oor die traagheid van die posdiens kla, het hy op 'n eksperiment besluit.
Hy vertel: "Ons het deur persoonlike kontakte, sosiale media, Pretoria FM-radiostasie en filatelie-klubs medewerkers gewerf om op 1 Februarie briewe na ons te pos. Hulle moes die pos-moment afneem en die foto vir ons stuur. Ons het die aankomstye van die verskillende briewe aangeteken." Volgens Nel het die aantal deelnemers tussen Oktober verlede jaar en Januarie hierdie jaar tot 150 aangegroei. Heelwat mense het ook hul kinders oorsee aangemoedig om briewe te pos. Daar is uiteindelik meer as 200 briewe gestuur, waarvan 17 van oorsese bestemmings af kom.
Nel sê hulle het filateliste gevra om ook bietjie 'moedswillig' te wees en briewe met te min of heeltemal sonder posgeld, of met onwettige posgeld te pos om te sien hoe die poskantoor se stelsels dit hanteer.
Volgens Joh Groenewald het die eerste 43 posstukke reeds Dinsdag 4 Februarie in Stilbaai aangekom. Binne die eerste twee weke het vyf buitelandse briewe ook reeds op Nel se tafel beland.
Met meeste van die binnelandse pos nou afgelewer is dit tans volgens die vereniging se Facebook-blad merendeels oorsese briewe wat aankom.
Nel beoog om binne die volgende paar maande 'n volledige verslag oor die eksperiment saam te stel.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'