RIVERSDAL NUUS - "In die tronk het hulle ten minste warm water en kos."
So het Berrie Geldenhuys, 'n boorling van dié dorp, sy ondervinding as tronkbewaarder met die Vroue-Landbouvereniging (VLV) gedeel.
As deel van die VLV se opvoedingsportefeulje het Geldenhuys vertel wat sy werk onder die jeugmisdadigers behels.
Hy is reeds 28 jaar bewaarder by Mosselbaai se tronk en glo dat hy deur die Here geroep is om daar te werk. Sy beste 'wapen' is die liefde van die Here.
"Elke mens het 'n behoefte aan liefde en aanvaarding. Dit kan ek hulle slegs deur die krag van bo gee," het hy vertel. Dié tronk neem slegs jong manne tussen die ouderdom van 16 en 28 jaar in. Daarna word hulle na ander tronke in die omgewing verplaas.
Volgens hom is daar nou 550 jong gevangenes in dié tronk, wat 200 te veel vir die ruimte is. Daar is 150 verhoorafwagtendes in die tronk en van hulle bly soms tot drie jaar lank opgesluit.
"Waarom beland so baie jonges in die moeilikheid? Die meeste is nie baie intelligent nie. Die gemiddelde geleerdheid is gr. 6. Hoekom? Omdat hy baie keer 'n pa gehad het wat drink, 'n ma wat tydens swangerskap rook en drink, of ouers wat bloot net heeltemal onbetrokke is."
Dié soort kinders sukkel om te leer en is onopgelei vir werk.
Tot 90 % van hulle word sonder 'n pa groot en dan raak hulle by bendes en misdaad betrokke. Nege uit 10 misdade is dwelmverwant.
Elke gevange in die tronk kos die staat bykans R180 per dag per persoon.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'