Update
HEIDELBERG NUUS - Die 8ste Hessequa Harmonie-fees, wat van 23 tot 27 Septem-ber plaasgevind het, het die afgelope week die Hessequa-streek se mense en besoekers saamgebind in 'n viering van musiek, kuns, erfenis en gemeenskap.
Met vyftien vertonings, sewe kunsuitstallings, 'n rekordgetal van 500 besoekers en wêreldklas kunstenaars, het die fees nie net in omvang gegroei nie, maar ook in gees en betekenis.
Feesdirekteur Niël Rademan, beskryf dit só: "Die 8ste Hessequa Harmonie was vir ons 'n besonderse hoogtepunt.
Wat my die meeste trots maak, is hoe die gemeenskap en besoekers saam die unieke karakter van die Hessequa-streek kom vier het. Hierdie sukses gee ons ongelooflike momentum vir die toekoms.
Die klein fees, met die groot hart."
Musikale hoogtepunte
Die ATKV-galakonsert in die NG Kerk was ongetwyfeld een van die hoogtepunte.
Die WindWorx Symphonic Wind Ensemble onder leiding van Pamela Kierman en Riaan van Wyk, saam met soliste Jo-Nette le Kay, Zanne Stapelberg, Lynelle Kenned, William Berger en Niël Rademan, het die gehoor op 'n indrukwekkende musikale reis geneem.
'n Massakoor van meer as 200 Hessequa-leerders, gedirigeer deur Betsie Ryke, het die aand na nuwe hoogtes gevoer.
Die feesprogram was ryk en gevarieerd.
Vrydagoggend het begin met Barok vir Brekfis, waar Lynelle Kenned se engelstem die gehoor betower het, terwyl Elna van der Merwe (klavier) en Petrus de Beer (viool) die musikale begeleiding verskaf het.
Later die dag het feesgangers by Proeviand saamgesmul aan erfeniskos.
Rademan het vir ligte klaviermusiek gesorg, terwyl Pierre Wahl van Survivor Wines 'n praatjie gelewer en sy nuwe wynreeks bekendgestel het.
'n Wynproe en tradisionele bobotie het die ervaring afgerond.
Vrydagaand het die program voortgesit met Afrikaans, my hart, waar die kunstenaars se stemme die gehoor se hartsnare diep geraak het.
Kuns, kultuur en erfenis
Die fees het nie net musiek gebring nie, maar ook sterk klem gelê op erfenis en plaaslike identiteit.
Vanjaar se program het die vieringe van 100 jaar Afrikaans én 100 jaar Pinotage ingesluit - twee mylpale in die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap.
Op Saterdag is die kreatiwiteit verder gevier met Blomme vir Brekfis, waar Diederick Geldenhuys sy unieke blompraatjie en demonstrasie gedeel het.
Daarna het Karnaval van die Diere die gehoor vermaak, met Jose Dias en Mario Nell (klaviere), en Niël Rademan as verteller.
Die musikaal-komiese werk van die Franse komponis Camille Saint-Saëns is hier op unieke wyse tot lewe gebring.
Die fees het afgesluit by Dasjesdrift-waenhuis, waar Jak de Priester die verrigtinge met ligte musiek afgerond het en die feesgangers op 'n ligte, vreugdevolle noot huis toe gestuur het.
Ander hoogtepunte tydens die fees vroeër die week was Nataniël se konsert, 'n onderhoud met Sandra Prinsloo, die Harmonie-langtafel, 'n Boere Brekfis met Samantha van den Berg en Chris Burgess, Hans bars die bioborrel, Afrikaans100-ontbyt met prof. Michael le Cordeur en Volksmond wêreldmusiek.
Gemeenskap en toekoms
Die Hessequa Harmonie-fees het weereens bewys dat dit meer as net 'n kunsfees is - dit is 'n viering van gemeenskap, tradisie en plaaslike erfenis.
Dit is juis hierdie kombinasie wat dit 'n unieke plek in die Suid-Kaapse kultuurkalender gee.
Volgende jaar se Hessequa Harmonie gaan vanaf 22 tot 26 September plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’