Update
ALBERTINIA NUUS - Dié draaiboek is nie wat die organiseerders van Albertinia se Aalwynfees - en terselfdertyd die dorp se 120ste eeufeesvieringe - enigsins in gedagte gehad het nie.
Juis daarom het die skoknuus oor die dood van twee jong meisies op Donderdag 22 September die rustigheid van Albertinia afgeskil, die gemeenskap tot stilstand geruk, ontroer en weer saamgesnoer.
Niks kon die hartseer en absolute verslaenheid van dié stemmige dorp beter illustreer as die klompie inwoners van die Theronsville-woonbuurt wat in Jan Fiskaalstraat nommer 16 saamgedrom het nie. 'n Swanger stilte het die groep inwoners omgeef.
Soms het iemand afwagtend, amper smekend, na die huis geloer, asof die mure antwoorde sou gee.
Dan die vraag, oor en oor, op almal se lippe: wat het die man besiel om twee onskuldige dogters, nog nie eens in die fleur van hul lewens nie, so wreed te vermoor?
Die twee, Jacorene Vaaltyn (10) en Sharon Arries (9), is verlede Donderdagoggend vroeg as vermis aangemeld. Hulle was onderskeidelik in gr. 3 en gr. 1 aan Oker Primêr. 'n Erg gebroke Florina Moos (36) voogouer van Sharon, het aan Suid-Kaap Forum voor haar huis in Absalon Nomdostraat vertel die twee dogters was onafskeidbaar en het alles saamgedoen.
"Hulle het Woensdagaand nog hier in die straat gespeel toe ek gou op pad was winkel toe. Ek het vir albei gesê om huis toe te gaan, maar toe ek later by my huis opdaag, was hulle skoonveld."
"Hulle het nie tuis geslaap nie, maar Donderdag het ek bekommerd geraak en vir Poeka, een van die ouer dogters in ons straat, gevra om na hulle te gaan soek. Sy het aanvanklik niks gekry nie, maar later die middag weer gaan soek by die huis in Jan Fiskaalstraat 16, waar die vermeende moordenaar bly, want hy het gereeld vir hulle koeldrank en lekkers gegee. Poeka het omstreeks 18:00 histeries by my aangekom en gesê sy was in die man se huis en het iets toegedraai onder sy bed gesien."
Die vermoorde Jacorene Vaaltyn (10) se ma, Maureen Vaaltyn (38). Sy het nou vier kinders aan die dood afgestaan.
Moos sê sy het vir haar man, John, gevra om te gaan kyk wat aangaan. "Jacobus (Kloeks) Oktober en Henry Paulse was saam."
Kloeks vertel dat hulle aanvanklik gesukkel het met hul soektog omdat daar beurtkrag was en die huis in donkerte gehul was. "Ons het niks anders in die huis se voorkamer gekry nie, maar in die slaapkamer het hulle toe Jacorene se lyk, toegebind in 'n laken, onder die bed gevind.
"Sy het nog haar groen blommerokkie aangehad."
"Ons het oral in die huis gesoek saam met konstabel Ashwin Gelderblom van die plaaslike polisie ook by. Ná 'n lang soektog het ons uiteindelik in die agterplaas op 'n blou emmer afgekom. Bo-op was 'n omgekeerde karton. Binne-in was toe die lyk van Sharon, ook toegedraai in 'n laken. Haar lyfie was nog warm.
"Ons het gedink sy leef dalk nog en het haar onmiddellik op die grond neergelê, maar toe ons sien dat daar sand by haar neus en mond uitloop, het ons besef sy is dood."
Kloeks sê die 53-jarige inwoner wat die kamer gehuur het, was nie meer op die perseel toe hulle met die soektog begin het nie. "Hy is glo vroeër deur inwoners van die buurt gekonfronteer, maar het toe weggehardloop."
Die polisie het onmiddellik na hom begin soek en die gemeenskap gevra om te help.
Die sinkhuis in Jan Fiskaalstraat 16 waar-in die vermeende moordenaar gebly het.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die lykskouing op die twee dogters dui daarop dat hulle weens versmoring dood is. Daar was ook nie enige tekens van seksuele aanranding nie, hoewel Maurelia Vaaltyn, die ma van Jacorene, aan Suid-Kaap Forum genoem het dat die man "daar onder met haar gemors het."
Sy vertel dat sy flou geraak het toe sy die nuus hoor van haar dogter se dood. "Ek kon amper nie asem kry nie. Jacorene is my vierde kind wat ek aan die dood afstaan. Dis verskriklik erg."
Die grootskaalse soektog Vrydag is deur ervare polisiespeurders, verbonde aan die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Mosselbaai gelei. Sewe patrolliemotors en lede van die plaaslike buurtwag was ook op die toneel om te help soek.
Die man het in digte bosse naby die riooldamme geskuil wat die soektog aansienlik bemoeilik het. Ontstoke inwoners het Vrydagmiddag opgedaag om te help soek en het gedreig om die reg in eie hande te neem as hulle hom in die hande sou kry.
Die verdagte is Vrydagmiddag net ná 17:00 in hegtenis geneem.
Die verdagte, Timothy Michael Ova, het met sy hofverskyning Donderdag, 29 September, aangedui dat hy nie om borgtog wil aansoek doen nie. Die saak is uitgestel na 3 November en sal in die rondgaande hooggeregshof aangehoor word.
Onder die bed is die liggaam van die 10-jarige Jacorene Vaaltyn gevind, toegedraai in 'n wit laken. Foto's: Hugo Redelinghuys
Vorige artikels:
- Verdagte bly in aanhouding
- Vermeende moordenaar was normaal
- Albertinier-inwoners ruk op na hof
- Albertinia-kindermoorde: Saak uitgestel
- Man in hof na meisies se dood
- Verdagte vas na moord op kinders
- Nege- en tienjarige weens versmoring dood
- Ligame van nege- en tien-jarige meisies gevind
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'