Update
ALBERTINIA NUUS - Jacobus (Kloeks) Oktober, wat gehelp het om na die lyke van die twee vermoorde jong meisies te soek, vertel dat Timothy Michael Ova, wat van die grumoorde verdink word, 'n heel doodgewone normale persoon is.
"Soos ons. Timothy is baie rustig en hy sal nie 'n vlieg wat op 'n muur sit doodslaan nie."
Kloeks, wat vleis vir 'n inkomste verkoop, sê dat Timothy eendag by hom aangeklop het om te vra of hy nie vir hom kan uithelp met 'n stukkie vleis nie.
"Ons het so staan en gesels en ek vra hom hoe is dit dan dat hy, as 'n 53-jarige nog nie getroud is of 'n vaste meisie het nie. Toe sê hy dat hy nie in vroumense belangstel nie, maar net in pornografie. En dis soos dit is," was sy antwoord aan my.
"Dit het my al voorheen opgeval dat hy altyd met klein dogtertjies deurmekaar was. Maar mens het nooit 'n slegte indruk van hom gekry nie hoewel sy betrokkenheid by jong meisies vreemd opgeval het."
'n Jongman, wat saam met Timothy by Aloe Ferox sowel as die Albertinia Game Lodge gewerk het en verkies om anoniem te bly, vertel dat hy glad nie gewelddadig was nie.
"Hy was altyd vriendelik, stil en op sy plek. Hy het regtig heel normaal voorgekom en was glad nie 'n slegte ou nie. Maar dít het ons glad nie verwag nie."
Kloeks sê hy was beslis op dwelms en pille. "Iets moes hom tot die grudaad gedryf het."
'n Buurvrou langs die moordhuis, Judith Michaels, vertel dat Timothy altyd in die woonbuurt rondgeloop het en klein dogtertjies met lekkers en koeldranke "bederf" het. Sy beduie voor haar huis in Jan Fiskaalstraat waar hy met hulle doenig was.
"Ek het dit so stilweg dopgehou en altyd gewonder wat is sy plan met hulle. Dis mos nie normaal nie."
Judith Michaels, 'n buurvrou van die vermeende moordenaar, wys na die pad voor haar huis waar Timothy Ova altyd lekkers en koeldranke aan klein dogtertjies uitgedeel het.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'