ALBERTINIA NUUS - Danksy die blitsige optrede van twee plaaslike polisiemanne is twee vermeende voortvlugtige mans, wat van die moord op 'n dokter in Brooklyn, Tswane (Pretoria), verdink word Woensdagmiddag, 15 Maart, omstreeks 15:15 op die Tierfonteinpad net buite Albertinia vasgetrek.
Die twee mans, onderskeidelik 27 en 34 jaar oud, is aangemeld as gesoekte persone deur die Brooklynse Moord en Roof Trio-misdaadeenheid ná 'n voorval van huisroof in Brooklyn waar 'n dokter op Maandag 27 Februarie vermoor is.
Die motor waarin hulle betrap is, behoort ook glo aan die vermoorde dokter.
Vroeër dié Woensdagmiddag het die twee voortvlugtiges petrol ingegooi by 'n vulstasie in Groot-Brakrivier en toe weggejaag op die N2 in die rigting van Albertinia sonder om daarvoor te betaal.
Die petroljoggies het alarm gemaak en die voorval by die plaaslike polisie gerapporteer.
Net voor Albertinia het die twee op die Tierfontein-plaaspad afgedraai.
Die Albertinia-plaaswag en plaaslik polisie was toe reeds op die uitkyk vir die voortvlugtendes. Die twee wakker polisiekonstabels, Bradley Volkwyn en Ashwell Gelderblom, het die motor gewaar en hulle met die hulp van die plaaswag voorgekeer.
Hulle het die motor deursoek en op tik afgekom.
Die twee mans is na Albertinia-polisiestasie geneem en met die nagaan van hul identiteitsdokumente is vasgestel dat die gesteelde voertuig verbind word met die moord en huisroof en dat hulle dringend deur die Brooklynse Moord en Roof Trio-misdaadeenheid gesoek word in verband met die ernstige misdade.
Albei mans is tans in aanhouding by die Albertinia-polisiestasie.
Hulle sal Vrydag in Stilbaai-landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen, maar 'n polisiewoordvoerder, sers. Ciska Badenhorst, sê hulle sal dit beslis teenstaan. Kapt. Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisiestasie, het die twee konstabels geloof vir hul wakker optrede en gesê dié arrestasie het 'n einde gebring aan die twee voortvlugtiges se misdadige ekskursie.
"Danksy hul parate optrede het hulle heel waarskynlik verhoed dat die twee mans verdere misdaad pleeg."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'