SWELLENDAM NUUS - Geskiedenis is besig om in Swellendam gemaak te word, waar geskiedkundige boeke in 'n 182 jaar oue biblioteek hul stories verder as leesstof in ‘n ultra moderne nuwe biblioteek oor die lippe van lesers sal vind.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister vir sport en kultuur, tesame met Swellendam se burgemeester, Nicholas Myburg, munisipale bestuurder Anton Groenwald en Keith Stuurman, direkteur gemeenskapsdienste het Dinsdag, 24 November die sooispit vir die oprigting van ‘n nuwe biblioteek behartig, wat ‘n gemeenskapsaal en rekenaarlokaal sal insluit.
Die oprigting van die nuwe biblioteek en aangrensende lokale sal R12 miljoen beloop.
“Die biblioteek sal die oue vervang wat heeltemal te klein is om die groeiende gemeenskap te dien,” het Stacey Mclean, Marais se woordvoerder gesê.
Om toegang tot die sentrum te vergemaklik, word dit langs ‘n skool en na aan die hoofweg opgerig.
Marais het in haar toespraak beklemtoon dat biblioteekdienste ‘n belangrike deel van die departement se uitreik vorm om gemeenskappe op te voed en te verenig. “Aangesien ons biblioteke hul gemeenskappe as die bron van inligting en geleenthede dien, is dit inderdaad belangrik om toegang tot die aantal fasiliteite in die provinsie te gee en dit te vergroot, veral omdat ons nou in ‘n nuwe virtuele norm beweeg.”
Sy het die munisipaliteit vir hul besonderse samewerkingswerk wat in Swellendam en die distrik Overberg gedoen is om ‘n splinternuwe moderne biblioteek tot stand te bring, bedank. “Ons vertrou dat die nuwe biblioteek ‘n innoverende inligtingsentrum vir die omgewing sal word, wat ‘n omgewing sal skep wat nodig is om ‘n gesonder lewenstyl binne ‘n veilige omgewing te geniet.”
Direkteur Keith Stuurman, minister Anroux Marais en burgemeester Nicholas Myburgh tydens die sooispit.
Vorige artikel: Leesvaardighede kry moderne hupstoot
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'