RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa Verkeersdepartement het Vrydag, 11 Julie, spesiale besoek ontvang van die Wes-Kaapse Minister van Mobiliteit, Isaac Sileku.
Die doel van die besoek was om die implementering van die nuwe CLLT-leerlinglisensie toetsfasiliteitstelsel te evalueer - en volgens Hessequa se Uitvoerende Burgemeester, Grant Riddles, is die departement beslis “op koers”.
Minister Sileku se besoek het bevestig dat Hessequa aan alle vereistes en standaarde voldoen, en die oorgang na die nuwe toetsproses doeltreffend en professioneel hanteer word.
Wat die besoek besonders gemaak het, was die energieke en vriendelike houding van die personeel.
“Van blink uitrustings tot vriendelike gesindheid en ligte oomblikke wat glimlagte gebring het - dit was ’n toonbeeld van spanwerk en positiewe dienslewering,” het Riddles gesê.
Hy het ook Minister Sileku bedank vir sy ondersteuning, en spesiale waardering uitgespreek teenoor elke personeellid wat bewys het hoekom Hessequa as ’n diensgedrewe munisipaliteit uitblink.
Die besoek dien as ’n bevestiging dat Hessequa in pas is met provinsiale standaarde en dat diens aan die publiek steeds ’n prioriteit bly.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’