STILBAAI NUUS - Praat van 'n welsynswerker en party mense sien iemand met min dryfkrag en baie tyd vir gesels voor die geestesoog. Dié prentjie is beslis nie van die personeel by Badisa se tak op die dorp waar nie. Lekker gesels ja, maar baie tyd? Nee, daar's te veel werk en te veel mense wat gehelp moet word.
Kantoorhoof Cornelia Giliomee het behoorlik 'n vlam vir dienslewering waarmee sy die hele kantoor inspireer.
Wanneer mens haar na 'n groot gesukkel uiteindelik so ver kry om vir 'n halfuur agter haar tafel stil te sit en met 'n joernalis te praat, is die passie wat haar aandryf onmiddellik opvallend.
Sy is die afgelope 14 jaar op Stilbaai, na 10 jaar as maatskaplike werker by ACVV Piketberg. Sy vertel: "Toe my pa oorlede is, wou ek net vir 'n jaar hier kom bly om my ma te ondersteun. Een jaar het so ongemerk na 14 aangeloop."
Sy beman die kantoor saam met boekhouer en administratiewe beampte, Annelize King en gemeenskapsontwikkelaar Fulipus van Wyk.
King het in 2010 by Badisa begin: "Ons het Stilbaai toe getrek met die idee om af te tree. Ek het egter moeg geword om te wag tot my man eendag tot rus kom en aansoek vir die pos by Badisa gedoen. En hier is ek steeds!"
Van Wyk is sedert 2017 deel van die span en is besig met die finale jaar van sy graad in maatskaplike werk. Covid-19 het egter tydelik 'n stokkie voor sy studies by Unisa gesteek.
Giliomee vertel Badisa is 'n nie-winsgewende organisasie wat in 2002 uit die samesmelting van die Christelike Maatskaplike Raad en die VGK se diakonale dienste ontstaan het. Hulle ontvang slegs ongeveer 36% van hul begroting uit staatsubsidies en maak derhalwe grootliks op donasies en skenkings uit die gemeenskap staat. Sy sê sy staan telkens verstom oor die oop harte en hande op Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein: "Ek het my dood bekommer waar ons kospakkies na die eerste week van inperking gaan kry, want daar was net genoeg voorraad vir een week.
"Ek het die saak aan die Here oorgelaat en álles wat ons gehad het, uitgedeel. Skenkings het sedertdien nie ophou instroom nie - ons kan nie genoeg dankie sê nie."
Dié drie mense werk nie op 'n agt tot vyf dag nie, want nood hou nie kantoorure nie. "Solank daar geld en 'n behoefte is, sal ons hier wees om te help," is hul slagspreuk.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'