HESSEQUA NUUS - Albertha Magdalena Bouwer (Alba Bouwer) is naby Vredefort in die Vrystaat op 16 Maart 1920 gebore.
Ná haar skooljare by 'n plaasskooltjie op die wal van die Renosterrivier, waar die stories van Rivierplaas hul ontstaan gehad het, het sy by die Hugenote Kollege in Wellington haar BA- en SOD-diploma behaal en vir ses jaar daarna onderwys gegee.
Haar joernalistieke loopbaan het by 'n Afrikaans vrouetydskrif, Huishouding, begin. In 1947 word sy organiseerder van kinderprogramme by die SAUK tot 1950, waarna sy vir 13 jaar assistentredaktrise by Sarie Marais, 'n nuutgestigte tydskrif, word.
Vir haar verskeidenheid boeke het sy vele toekennings ontvang:
1955 - Stories van Rivierplaas (Scheepersprys vir Jeug-lektuur van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns).
1956 - Nuwe stories van Rivierplaas (prys vir jeuglektuur van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns).
1964 - Stories van Bergplaas (weer Scheepersprys vir Jeug-lektuur ).
1963 - Katreintjie van Keerweder (een van drie keer wat sy met die CP Hoogenhout-toekenning van SA Biblioteek vereniging bekroon is).
1972 -'n Hennetjie met Kuikens
1984 - Vlieg Swaeltjie vlieg ver (Bekroon met M.E.R.-prys van Nasionale Pers).
Sy het altesame 14 boeke geskryf. Een, Ienkel Dienkel, is 'n kinderboek wat in Riversdal afspeel, en Die afdraand van die Dag is Kil, haar bekende roman waarvoor sy die M-Net toekenning vir SA Letterkunde in 1993 gekry het.
Alba het ook bydraes van bundels vir beide kinders en volwassenes gelewer en ongeveer 14 boeke uit Duits, Engels en Nederlands vertaal, soos bv. Dirkie van Driekuil.
In 1987 is sy vereer met die driejaarlikse Alba Bouwer vir kinderliteratuur.
Sy het op die ACVV se hoofbestuur as visevoorsitter gedien en ook as voorsitter van die ACVV Riversdal.
Dié vrou met soveel deernis en liefde vir iedereen, sonder hoogmoed en geleerde stadsmaniertjies, het die gemeenskap verryk met haar fyn sin vir humor en sjarme.
Sy is op 5 Oktober 2010 in die Helderberg Village in Somerset-Wes in die ouderdom van 90 oorlede.
Vera Volschenk
'n Joernalis het eendag vir Vera gevra wat sy van moderne kuns dink waarop sy geantwoord het dat sy te dom is om dit te verstaan.
Sy het, nes haar pa, nooit enige kunsopleiding gehad nie, maar wel van hom baie geleer terwyl sy langs hom in sy ateljee in hul huis gesit het. Hul huis was waar die huidige poskantoor nou in die hoofstraat geleë is. Hy het vir haar 'n potlood en papier gegee waarmee sy elke dag iets anders moes skets.
Ná haar skoolloopbaan in Riversdal het sy onderwys aan die Onderwyskollege in Grahamstown studeer en as kunsonderwyser in Oudtshoorn begin.
Sy is met Willie Hayward, 'n boer van Aberdeen, getroud en het twee kinders gehad, waarvan die dogter, Hélène, 'n portretskilder geword het.
Vera het eers begin skets en daarna met olieverf gewerk. Hiermee het sy haar pa, Jan, se raad gevolg om na die natuur te kyk en haar verf tot die regte skakering te meng.
In 1936 besluit sy om haar pa se leemte as volksskilder te vul. Sy hou in 1939 haar eerste tentoonstelling by die Gainsborough-kunsgalery in Johannesburg en volg dit in 1940 op met 'n tentoonstelling in die Maskew Miller-kunssaal in Kaapstad.
In 1941 hou sy haar derde uitstalling in Kaapstad.
Sy skilder met olieverf en vir haar gunstelingonderwerp, berglandskappe, gebruik sy meestal 'n kwas en paletmes.
Haar tentoonstellings het haar na vele plattelandse dorpe geneem.
In 1947 hou sy 'n uitstalling met haar dogter, Hélène, in Pietersburg, en in 1948 verhuis sy na Stilbaai.
Vera het menigte kere oorsee gereis, maar het altyd teruggekom om haar geliefde land en landskappe te kom skilder.
In 1953 hou sy 'n uitstalling ter herdenking van haar vader in Johannesburg. Beide sy en Hélène het uitgestal.
Met haar skilderye het sy die Langkloof en die Klein-Karoo na die Goudstad gebring.
Vera se bekendste werk is die kolossale berglandskap wat pryk in die voorportaal van die Hessequa-burgersentrum in Riversdal van die Slapende Skoonheid, die bergspits by Riversdal. Dis in 1955 aan die stadsraad van Riversdal geskenk.
Lily Gordon het destyds baie hard gewerk om geld in te samel om vir al die materiaal te betaal. Sy het oorspronklik 'n ander skildery geskilder, maar Vera en Lily het dit skoongemaak om weer die doek te kon gebruik.
Vera was 'n dierbare mens, altyd fyn en netjies uitgevat, onberispelik versorg en sjarmant, wat geliefd was oral waar sy gegaan het.
In haar lewe het sy meer as 2 000 skilderye geskilder en almal was oorspronklike tonele wat sy, soos haar pa, fyn bekyk en pragtig geskilder het. Volgens kenners was haar werk van hoogstaande gehalte.
Lily (Gordon) du Plessis
Lily Gordon se pa was Dik Gordon, wat eienaar van die winkel op die hoek van Kerkstraat (destyds Maitlandstraat) en die Hoofstraat, waar Riversdal Apteek nou is. Sy is in 1891 in Riversdal gebore en het haar later as 'n onderwyseres bekwaam. Haar huwelik met Bernard du Plessis, 'n bankamptenaar in Johannesburg, het 'n dogter en twee seuns opgelewer, waarvan een, ook Bernard, 26 boeke oor Suid-Afrikaanse krygsgevangenes geskryf het.
Lily, toe natuurlik mev. Lily du Plessis, het leerlinge gehelp wat met Engels sukkel en sy het ook musiek- en sanglesse gegee. Een van haar leerlinge, dr. Cedric Nainkin, vertel dat hy eendag by die venster uitgeglip het om liewers met 'n bal te gaan speel.
Lily het toe vir Cedric se ma gaan vertel en sy was redelik ontsteld daaroor. Maar sy pa was nog kwater, omdat hy reeds vir al die lesse betaal het.
Cedric vertel ook sy was 'n dierbare mens, maar 'n baie streng onderwyseres hoewel sy nog altyd vriendelik teenoor hom was daarna. Hy het later baie sukses behaal as 'n provinsiale krieketspeler.
Daar is ook 'n staaltjie oor die seuns vir wie sy sanglesse gegee het en niks daarvan gehou het nie. Die seuns smeer toe 'n mengsel aan die pedale van die klavier, wat baie ywerig deur Lily bespeel is.
Die wrywing van haar skoene het dit laat ontplof en sy het van skok reg agteroor geslaan. Krygshof is tot laat gehou, maar die skuldiges het nooit na vore gekom nie.
Lily was effektief verantwoordelik vir die totstandkoming van die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld-Huis, want sy het twee mans aangepor om baie groot skenkings aan die dorp te maak. Julius Gordon het van sy besittings geskenk en Theodore die huis waarin Julius se goed uitgestal moet word.
Lily was ook diep betrokke by die gemeenskap se kultuuraangeleenthede.
Lily Gordon
(Die inligting is bekom met die hulp van die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld Huis).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’