MELKHOUTONTEIN NUUS - Ten spyte van die koronavirus-pandemie en inperking van 21 dae wat ingestel is, het die strate van dié dorpie Maandag 30 Maart steeds met inwoners gewemel wat rondloop.
Volgens 'n inwoner het hulle gesien dat die plaaslike polisie Vrydag 27 Maart 'n groep mense hieroor in hegtenis geneem het.
"Soos dit vir my lyk dink die mense dit is 'n grap. As ons as die gemeenskap nie gaan saamwerk nie, kan ons almal baie siek raak,'' het sy gesê.
Hoewel heelwat minder mense op straat was, is van die inwoners baie bekommerd. 'n Persoon wat anoniem wil bly het aan Suid-Kaap Forum gesê: "As Covid-19 onder die gemeenskap versprei, gaan die dorpie groot skade ly omdat dit 'n arm gemeenskap is. Meer mense is vir besmetting kwesbaar."
Volgens 'n bejaarde inwoner is haar grootste bekommernis die veiligheid by die punte waar hulle hul maatskaplike toelae ontvang. Baie bejaardes kry eers die geleentheid om kos en ander mediese voorraad te koop op die dag na hulle hul toelae ontvang het. Baie het oor die kos en sanitêre produkte wat in die tydperk baie duur geword het gekla en is bekommerd dat hulle nie met hul toelae sal uitkom nie.
'n Winkeleienaar het gesê hy probeer sy bes om klante te oortuig om hulle hande te reinig sodra hulle by die winkel instap, maar die mense wil eenvoudig nie saamwerk nie.
Winkels sluit om 18:00 en inwoners word gemaan dat geen rondlopery daarna geduld sal word nie.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'