STILBAAI NUUS - Die vyfde Stilbaai-boekefees het Vrydag 27 Februarie op 'n hoë noot afgeskop met die jeugfees in die Ruby Flores-saal van Melkhoutfontein Primêr. Melkies en Paideia se leerders het lustig meegedoen aan die skrywers se manewales vir 'n feestelike atmosfeer.
Dit het Elna van der Merwe, organiseerder van die boekefees, se hart geraak en tydens elke optrede deur die loop van die naweek het sy feesgangers aangemoedig om jeugboeke te koop en by haar te los vir die skool.
Graeme Cuttings, skoolhoof, is besig om die biblioteek by die skool weer aan die gang te kry en hy het uit die aard van die saak boeke nodig.
Die feesgangers het geluister en vandeesweek kon Elna 'n paar arms vol boeke aan die skool oorhandig.
Vir Cuttings is kinders wat lees baie belangrik en hy poog om so gou moontlik 'n ordentlike biblioteek by die skool te vestig.
Indien daar by die huis jeugboeke rondlê is hierdie die ideale geleentheid om daarvan ontslae te raak.
Gaan laai dit af by die skool of vat dit vir Stilbaai-biblioteek en vra dat hulle dit vir die skool gee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’